Lauren Dickason dán gevonnis

Lauren Dickason tydens haar verhoor in die hooggeregshof in Christchurch. (Foto: NZ Herald)

Lauren Dickason, ʼn Suid-Afrikaner wat in Nieu-Seeland skuldig bevind is aan die moord op haar drie jong dogtertjies, sal in Desember gevonnis word.

Regter Cameron Mander het Vrydag bevestig dat Dickason op 19 Desember gevonnis sal word vir die moord op Liané (6) en die tweejarige tweeling Maya en Karla, berig die NZ Herald.

Met Dickason se skuldigbevinding in Augustus het regter Mander opdrag gegee dat ’n aantal voorvonnisverslae opgestel word wat verband hou met Dickason se geestesgesondheid, die behandeling daarvan en waar sy aangehou moet word.

Dickason word sedert haar inhegtenisneming by die Hillmorton-hospitaal in ’n psigiatriese eenheid aangehou.

Dickason se ouers, Malcolm en Wendy Fawkes, asook hul uitgebreide familie, het na haar skuldigbevinding gesê “dit was nie ons dogter nie, maar ʼn verlammende geestesongesteldheid wat aanleiding gegee het tot ʼn verskriklike tragedie, die besonderhede waarvan julle nou al deeglik bewus is”.

Lewenslange tronkstraf staar Dickason nou vir elk van die skuldigbevindings op moord in die gesig. Sy is op 16 Augustus in die hooggeregshof in Christchurch skuldig bevind nadat die jurie ʼn meerderheidsuitspraak bereik het.

Dickason het die aand van 16 September 2021 – kort nadat die gesin na Nieu-Seeland geëmigreer en hulle in Timaru gevestig het – haar drie dogtertjies met kabelbinders en daarna met hul kombersies versmoor, waarna sy haar eie lewe probeer neem het.

Die Dickason-gesin voor die tragedie. (Foto: Facebook)

Graham Dickason het die aand van ʼn werksete teruggekeer en Lauren in die kombuis van hul huis in Timaru aangetref. Graham onthou dat hy na die dogtertjies se kamers gegaan het. Hulle het in hul beddens gelê en was bedek met komberse. Hy het die komberse opgelig en die kabelbinders om hul nekke gesien. Hul gesiggies was bleek. Graham het die kabelbinders om sy dogtertjies se nekke inderhaas met ʼn skêr geknip, maar hulle was reeds dood.

Dickason het erken dat sy die kinders in September 2021 doodgemaak het, maar het ontken dat dit moord was. Sy het onskuldig gepleit op die aanklagte teen haar en voer ter verdediging aan dat sy tydens die moorde geestelik ongesteld was en nie toerekeningsvatbaar is nie.

Tydens die weke lange verhoor wat op 17 Julie begin het, is elke aspek van Dickason se jare lange stryd teen depressie, haar infertiliteit, gesinslewe en selfoonrekords in die hof ontleed.

Die staat het aangevoer dat Dickason die moorde in ʼn oomblik van woede gepleeg het, dat sy al voorheen daaraan gedink het om haar kinders dood te maak en dat sy die aand van die moorde “geknak” het toe die meisies hulle wangedra het. Die dade is doelgerig en doelbewus gepleeg, het die staat aangevoer.

Die verdediging het tydens die verhoor volgehou Dickason was ʼn liefdevolle ma wat nog nooit haar kinders mishandel of verwaarloos het nie, dat sy erg depressief was en gedink het sy doen die regte ding. Dickason het simptome gehad wat uniek is aan nageboorte‑depressie, waaronder haar gedagtes om die kinders seer te maak en nie soos ʼn bevoegde ma te voel nie, het die verdediging in sy slotbetoë aangevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Koen ·

Kom ons kyk hoe baie die wrede moordenaar gaan jammer kry en vir haar ‘n drukkie wil gee. Dieselfde mense wat plaasmoordenaars ook wil gaan drukkies gee. Want hulle is ook mos glo almal depro.

sterk soos n beer ·

oordeel kom ons nie toe nie. gee jy steeds drukkies vir mense wat vloek?

Cherokee ·

Nogal gewonder of ek gaan reageer op die kommentare, terwyl e, wie en wat is hy?k dikwels van die betrokke berigte oorgeslaan het. Koen was outomaties om weg te vee met

Bre ·

So, so hartseer!!! Laat ons nie verder oordeel nie en vir beide families bid. Hulle het dit baie nodiger as om vir Lauren te oordeel. Ons almal het nou al n stywer in die arm beurs gegooi.

Annelize ·

Vir haar eie, en die rondom haar se veiligheid, moet sy maar vir die res van haar lewe in ‘n psigiatriese inrigting opgesluit word.
Ek kan nie sien dat sy ooit weer in ‘n funksionerende lid van die samelewing kan wees nie.

Andre ·

Daar is baie vroue wat aan nageboorte depressie ly, maar dit kan nie as verskoning vir moord gebruik word nie. Ek dink net haar man kon vroeër werk gemaak het daarvan

Gideon ·

Ek bid dat ek of enige van my familie, vriende, kennise nooit ooit in so diep donker depresiewe gat beland nie..

Bre ·

Ja Gideon, almal se monde is wawyd oop maar ek dank die liewe Heer dat ons nie in daardie bootjie is nie. Intendeel, niemand weet wat more met ons kan gebeur nie en dit kan enigiemand oorkom. Ek staan met wat ek sê: Ek kry vir Lauren ongelooflik jammer. JA, hulle kindertjies is oorlede maar GEEN regdenkende mens sal 3 kleingoed as daar nie iets groots verkeerd is met haar/hom nie en NOG MINDER as dit jou eie is.

Koen ·

Noem dit op die naam. Die vrou het haar kinders wreed en bepland vermoor. Kry jy alle moordenaars jammer. Want daar is groot skroewe los by alle moordenaars. Plaasmoordenaars ingesluit, Jou kommentaar is ‘n mes in die hart van almal wat mense verloor het agv moord. Gaan gee maar die moordenaars in die tronke jou drukkies. Vieslik.

domheks ·

Goed en wel depressie bestaan – maar daar is medikasie. As dokter moes sy self van beter geweet het. Om een kind te vermoor miskien … maar drie op een slag? Nee ek dink jalosie het ‘n rol gespeel. Man het te veel aandag aan kinders gegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.