Leerders eers in Junie terug skool toe

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gedurende Dinsdagaand se funksie. (Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag aangekondig dat die eerste groep leerders eers in Junie vanjaar sal kan teruggaan skool toe. Dit sal departementele beamptes en skoolpersoneel genoeg tyd gee om al die veiligheid- en gesondheidsmaatreëls  te tref om die verspreiding van Covid-19 in skole te verhoed, voordat leerders terugkeer.

Volgens Motshekga het die ministeriële komitee wat verantwoordelik is vir die bestuur van die Covid-19-pandemie Donderdag goedgekeur dat sekere beamptes van die departement van onderwys Maandag 6 Mei terugkeer kantoor toe om die situasie te evalueer en die nodige toerusting aan te koop ten einde te verseker dat skole behoorlik toegerus en veilig is om leerders in te neem. Op 11 Mei sal skole se bestuurspanne mag terugkeer en die res van die personeel op 18 Mei om die skool gereed te kry vir leerders se terugkeer. Net gr. 12 en gr. 7 leerders sal op 1 Junie mag terugkeer skool toe. Datums vir die terugkeer van leerders in ander grade is nog nie gefinaliseer nie.

“Hierdie besluite is geneem om die 2020- akademiese jaar te beskerm, maar ook om te verseker dat skole nie bydra tot die verspreiding van Covid-19 nie. As net een graad op ʼn slag terugkeer skool toe het hulle die hele skool vir hulself en kan sosiale afstande behoorlik gehandhaaf word,” het Motshekga gesê.

Matrikulante aan die Hoërskool Menlopark skryf hul matriekeksamen. (Foto: Facebook)

Sy het ook gesê dat die hereksamen vir matrikulante wat Junie sou plaasvind, nou by die November-matriekeksamen bygewerk sal word. Daar is egter steeds nie uitsluitsel oor die Junie- en September-skoolvakansies of wanneer die skool vir die jaar sal sluit nie. Die amptelike hersiene skoolkalender sal in die Staatskoerant gepubliseer word sodra dit gefinaliseer is. Voorsiening sal ook gemaak word vir leerders wat uit ander provinsies of buurlande skool toe moet reis.

“Ons besef daar was die afgelope tyd baie angstigheid oor wanneer skole heropen, maar ons kan nie bekostig om oorhaastig besluite te neem wat 13 miljoen kinders se lewens in gevaar stel nie,” het Motshekga gesê.

Motshekga het die versekering gegee dat leerders nie toegelaat sal word om terug te keer skool toe voordat skole nie die nodige maatreëls getref het om die verspreiding van Covid-19 te verhoed nie. Veiligheidsmaatreëls behels die volgende:

  • ʼn Higiëniese pakkie wat maskers, handontsmetmiddels, handskoene en ander beskermende kleredrag bevat, sal aan alle skole verprei word.
  • Alle leerders en onderwysers moet reg deur die dag maskers dra.
  • Leerders sal vir Covid-19 nagegaan en getoets word wanneer kontakonderrig hervat.
  • Alle leerders en onderwysers sal opleiding ontvang in hoe om veiligheid- en gesondheidsmaatreëls toe te pas wanneer leerders op 1 Junie terugkeer.
  • Leerders se hande sal ontsmet word voor hulle by ʼn klaskamer ingaan.
  • Nie meer as twee leerders moet by ʼn skoolbank sit nie.
  • Klaskamers sal elke dag ontsmet word.
  • Watertenks sal aan 3 500 skole wat nie water het nie, verskaf word.
  • Leerders wat met busse skool toe ry se hande sal ontsmet word voor hulle opklim. Hulle mag ook nie naby mekaar sit op die skoolbus nie.
  • Leerders se beweging tussen klasse sal beperk word.
  • Aktiwiteite soos sportbyeenkomste en skoolkonserte word nie toegelaat nie.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Volgens Motshekga het haar departement alles in hul vermoë gedoen om leermateriaal die afgelope maand aan leerders beskikbaar te stel. Dit sluit in die uitsaai van kurrikulum-inhoud op radio- en televisiestasies. Leermateriaal is ook op die departement se webtuiste beskikbaar gestel. “Ten spyte hiervan is ons in kennis gestel dat die meerderheid leerders nie toegang tot hierdie inhoud gehad het nie en dat die inhoud self slegs 20% van die impak gehad het wat dit in die klaskamer sou hê. Dit is dus noodsaaklik dat ons voortgaan met kontakonderrig,” sê Motshekga.

Motshekga het ouers verder aangeraai om skoolfonds te betaal indien hul kinders in skole is wat skoolfonds hef. “Die wanbetaling van skoolfonds plaas bykomende druk op skole wat onderwysers moet betaal wat deur die beheerliggaam aangestel is. Ouers moet dus so ver moontlik voortgaan om skoolfonds te betaal.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Boortor ·

Skoolfonds betaal?? En wat as die ouers nie meer n inkomste of werk het nie? En daar gaan en is baie van hulle. Wat is julle plan dan?

SomeOne ·

wat gaan van die ander grade word, sal hul hierdie jaar moet oordoen of gaan hulle na die volgende graad oorgeplaas word ?
dit laat nou al ‘n groot kopseer, daar is al voorbereidings getref wat na die oorspronklike skooljare gaan gebeur !, kom minister gee ANTWOORDE !!!!

Willem ·

Verstaan ek reg dis slegs n voorstel . Nie finaal dat skole open op 1 Junie. Vir my is die mees skrikwekkende gedagte dat dit beteken dat vlak 4 tot dan gaan duur. Angie het gister gese geen kind sal skool gaan in vlak 4

Stella ·

Geen skool privaat en veral staat en semi staat is toegerus vir alle leerders. Ons moet ‘n afstand van 1 tot 1.5 meter handhaaf. Maar sy se kinders 2 op ‘n bank dit sit di kinders ni eers 30 cm uit mekaar. Hoekom nie ook ons kinders toelaat om deur media te studeer ni. Ek wil eerlikwaar ni my kind terug stuur en blootstel aan di virus

marius ·

Die hele skool vir hulself ? Gaan hulle die onderwysers wat vir sekere grade opgelei is om klas te gee kloon ? Hou net asseblief op met brabbel !

Corne123 ·

Sonons moet skoolfons betaal terwyl ek ook iemand amders moet betaal om na my kind te kyk en te help met sy skoolwerk terwyl die skool net toe bly se diges as ek nie werk nie kry ek nie geld nie en dit moet geld vir skole ook

Erik ·

Ek lees nêrens iets van kleuterskole of speelgroepies nie? Wat gaan van al die kinders, veral laerskool kinders, word terwyl hul ouers moet terruggaan werk toe? Wie gaan hulle tuisonderrig en oppas? Almal het nie kinderoppassers of au pairs nie. En die skool bestuurspanne moet 11 Mei terug en dan het hul 20 dae om die skool voor te berei vir die Graad 12s en 7s? 20 dae??? Niks maak meer sin nie.

Lulutjie ·

Ek het nie kinders op skool nie, maar kry die ouers jammer. Hoe moet hulle skoolfonds betaal as hulle reeds sukkel om net kos op die tafel te sit vir daai kinders? Kos is tog belangriker as skoolfonds vir n kind of is ek verkeerd? No work, no pay geld tog seker vir onderwysers ook?

Erik ·

Is jy onder die indruk dat onderwysers tans nie werk nie? My kinders se onderwysers het lanklaas so hard gewerk soos nou! Skoolfondse betaal nie onderwyser salarisse nie (slegs BL poste), maar die departement van onderwys.

Chris ·

Kinders in die bus mag nie naby mekaar sit nie en in die klas mag 2 by ‘n skoolbank (langs mekaar) sit?

penny ·

Wat van kinders met onderligende siektes soos Asma? Daar is nie manier wat ek die kans gaan vat met my kind nie. Als werk mooi uit as jy dit op papier ‘af tick’ maar realiseer nooit!!! Die skole nie nou nie eers orde nie, hoekom sal als dán mooi in plek val? Dis belaglik…..

Paula ·

Hoe wil hulle he moet ons maak met ons kids? Ek is ‘n enkel ma wat na ‘n nuwe dorp toe getrek het en het geen familie hier nie. So waarheen nou met my kids wat 6 en 4 is? Ek kan nie extra huis hulp bekostig nie en ek kan glad nie my hyper active kids saam vat werk toe nie…
En hoe gemaak met skool fonds? Ek kan nie sou die kleuterskole oop maak hulle betaal en die skool terselfde tyd nie.. en die maand wat hulle nie skool toe is nie? Moet ek nogsteeds daarvoor ook betaal nadat dit my ongeveer die selfde bedrag gekos het om al die skool werkies te print en kids te kon besig hou by die huis…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.