Legendariese veldwagter sterf

Louis Olivier was vir 45 jaar ʼn veldwagter by die Krugerwildtuin (Foto: Verskaf)

ʼn Legendariese veldwagter van die Nasionale Krugerwildtuin is verlede Donderdag in die ouderdom van 72 aan Covid-19 dood. Louis Olivier was bekend vir sy dapperheid toe hy jare gelede ʼn kollega uit die kake van ʼn krokodil gered het.

Olivier was vir 45 jaar ʼn veldwagter by die Krugerwildtuin en het verskeie kere die prys vir die beste veldwagter gewen. Hy het sedert sy aftrede in Pretoria gewoon.

Prof. Gerrit Olivier (75), Louis se broer, vertel Olivier is sowat vier weke gelede in die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria opgeneem nadat hy Covid-19 opgedoen het. ’n Paar dae voor sy dood het sy toestand wel verbeter, maar toe beleef hy ’n terugslag toe sy hart ingee.

“Louis het oor die jare as veldwagter die dood telkemale in die oë gestaar. ʼn Gemsbok het hom een keer met sy horing in die lies gegaffel. Louis het baie bloed verloor en het by die dood omgedraai. Wilddiewe het op hom geskiet en ʼn brandende boom het op hom geval. Hy het elke keer weer opgestaan en aangegaan,” vertel Gerrit.

“Louis het geweet wat pyn is.”

Olivier is in 1978 met die Wolraad Woltemade- dekorasie vir dapperheid vereer nadat hy ʼn kollega twee jaar tevore uit die kake van ʼn krokodil gered het.

Volgens Gerrit het Louis en ʼn paar van sy kollegas en vriende die dag by ʼn rivier in die Krugerwildtuin vertoef. Dit was kort nadat Louis in die wildtuin begin werk het. Hulle is kniediep in die water in en een van sy kollegas, Thomas Yssel, wou op die wal uitklim toe die krokodil hom van agter aan die bobeen beetgekry het. Sy kake het om die man se been gesluit. Die krokodil was omtrent vier meter lank, vertel Gerrit.

“Louis het vir een van die vroue gevra om vir hom ʼn vleismes aan te gee en hy het dié in die krokodil se oog gesteek. Op daardie oomblik het die krokodil sy bek oopgemaak en van die ander mans het Thomas uit die krokodil se kake geruk.”

Volgens Gerrit was Thomas lank in die hospitaal. Die dokters kon wel daarin slaag om sy been te red.

“Thomas het selfs sy seuntjie na Louis vernoem, omdat hy sy lewe daardie dag gered het.”

Gerrit sê Louis was die eerste persoon om die Wolraad Woltemade-toekenning in lewende lywe te kon ontvang. Dié toekenning is die eerste keer in 1973 aan Johannes Lodewikus le Roux toegeken, ʼn seun wat sy medeleerders gehelp het om uit ʼn bus te ontsnap wat in die pad van ʼn aankomende trein gestaan het. Hy is in die voorval dood.

Louis het ná skool vir ʼn BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria (UP) ingeskryf, maar het in dieselfde jaar opgeskop en as veldwagter by die Krugerwildtuin begin werk.

“Hy het gehunker na die bos.”

Louis se hart en siel het in die Bosveld gelê. Hy het saam met Gerrit, hul suster, Talitha (65), en broer, Frikkie (60), grootgeword op ʼn plaas in die Dendron-omgewing.

“Louis was ʼn dapper man met ʼn sagte hart. Hy was geliefd onder die wildtuinbesoekers.”

Op die Krugerwildtuin se webwerf word Louis beskryf as ʼn inspirasie vir baie veldwagters, gidse en ander personeel in die park.

“Baie toeriste kan getuig van die groot, vriendelike man wat hul besoek ʼn uitsonderlike ervaring gemaak het,” lui die inskrywing.

Louis word oorleef deur sy vrou, Trix, en twee kinders, Derek en Benneli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kokerboom ·

RIV Louis. Dankie viru bydrae tot natuurbewaring al die jare. SA gaan jou sekerlik mis

Anoniem ·

Aan Louis se familie, oud kollegas en vriende, innige simpatie en meegevoel word betuig.

Casper ·

Baie hartseer dat die dood in ‘n ander vorm Louis se lewe moes eis.Sterkte aan sy familie.

Heinrich ·

Sjoe, dis nou ‘n lewe waarvan ‘n fliek gemaak kan word!

Rudolf ·

Strooi sy as daar waar hy sulke diep spore getrap het……….

Albert ·

Dit was n voorreg om jou te ken oom Louis. Rus in hemelse vrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.