Lesufi se misdaadvegters ‘goeie gedagte’, maar waarskynlik gedoem

Gauteng se nuwe misdaadbekampingseenheid. (Foto: Twitter)

Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, se nuwe misdaadbekampingseenheid in die provinsie is ʼn goeie idee, maar sommige polisiëringskenners meen dit gaan heel waarskynlik in die hek duik.

Dr. Johan Burger, ʼn onafhanklike misdaadkenner en navorser, sê die Gautengse regering wil met sy nuwe misdaadbestryders doen wat die Wes-Kaapse regering met sy program vir die bevordering van wetstoepassing (LEAP) reggekry het. Die misdaadbestryders in die noorde het egter maar net drie maande opleiding in basiese polisiëring ontvang.

“Ek kry die gevoel mnr. Lesufi is so ʼn klein bietjie oorhaastig. Dit beteken nie dit is ʼn slegte idee nie. Dit is ʼn goeie gedagte. Ons het gesien dit werk in die Wes-Kaap, maar dit lyk vir my na ʼn oorhaastige poging om te doen wat in die Wes-Kaap gedoen word,” sê Burger.

Lesufi het vandeesweek aangekondig dat 6 000 “dinamiese en fisiek bedrewe jong mense” as misdaadbestryders opgelei en toegerus is in die hoop om misdaad in die provinsie se brandpunte hok te slaan.

Die eerste 3 200 misdaadbestryders het reeds vandeesweek die provinsie se onderskeie wyke begin patrolleer. Die tweede groep sal na verwagting volgende maand die strate invaar nadat hulle hul opleiding aan die einde van die maand voltooi het.

Dit volg egter minder as vier maande nadat Lesufi in Februarie vir die eerste keer ʼn woord oor die nuwe misdaadbekampingseenheid tydens sy eerste provinsiale rede gerep het.

Dit is R450 miljoen later en die jong misdaadbestryders het nog nie hul toetse vir vuurwapenbevoegdheid geslaag nie, wat beteken dat vuurwapens nie aan hulle uitgereik kan word nie.

Hulle het wel twee helikopters én 200 splinternuwe BMW-patrollievoertuie wat heel waarskynlik met hul eerste uitplasing in Alexandra beskadig gaan word weens enorme slaggate, sê ʼn skeptiese Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

“Ons verwelkom en ondersteun altyd enige werkbare inisiatiewe om misdaad te bekamp, maar dit moet daadwerklike misdaadvoorkoming wees en nie net werkskepping nie.”

Cameron sê die nuwe misdaadbekampingseenheid lyk vir hom eerder na ʼn bemarkingsfoefie as ’n wesenlike oplossing. “Dit skep ook talle vrae oor opleiding, befondsing en wetgewing.”

Burger beaam dit.

Cameron en Burger is dit eens dat Gautengers waarskynlik nie juis veiliger gaan voel nie. Dié kenners vrees inteendeel vir die misdaadbestryders se eie lewens aangesien hulle sonder vuurwapens en min opleiding in gevaarlike gebiede ontplooi gaan word.

“Ek kan nie glo dat jy só ’n ding oorhaastig aanpak nie en mense in gevaarlike situasies instuur,” sê Burger.

Magte, bevoegdhede

Burger sê voorts dit is geen geheim dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorweldig is nie. Hy glo daarom daar ís ’n behoefte én die nodige ruimte vir bykomende wetstoepassers om die polisie in sy reusetaak by te staan.

“Lesufi se nuwe misdaadbekampingseenheid is egter nie naas die polisie of metropolisie ʼn derde polisiemag nie,” stel Burger dit duidelik, “aangesien die misdaadbestryders nie in terme van die Polisiewet aangestel word nie, maar eerder die Strafproseswet.”

Gauteng se nuwe misdaadbestryders se magte en bevoegdhede verskil daarom wesenlik van dié van die polisie en metropolisie. Burger glo die magte en bevoegdhede behoort duidelik in die Staatskoerant uiteengesit te word.

“Ek sien daar is uniforms uitgereik en hulle is geleer om te salueer. Hulle het waarskynlik militêre opleiding ontvang ter wille van goeie dissipline en orde.

“Maar dit is slegs een deel van die opleiding… Dit help nie jy kan dril en salueer maar jy kan nie iemand in hegtenis neem nie.”

Burger sê die misdaadbestryders behoort ook te weet dat hulle verdagtes se regte aan hulle moet verduidelik en dat mans byvoorbeeld nie toegelaat word om vroue te deursoek nie.

“Indien hulle dit nie weet nie, kan dit lei tot siviele eise. Dit is alles fyn besonderhede waarop gelet moet word.

“Ek het groot twyfel in my gemoed dat drie maande voldoende is vir hierdie soort spesialisopleiding. Om iemand van buite, wat níks weet nie, binne drie maande op só ʼn vlak te kry dat hulle alles nodig met bekwaamheid te kan doen… ek weet darem nie.”

Burger is boonop bekommerd dat die een groep misdaadbestryders deur die polisie opgelei is en die ander deur die metropolisie. Dit kan beteken dat nie al 6 000 misdaadbestryders dieselfde opleiding ontvang nie.

Die Gautengse regering het egter die versekering gegee dat die misdaadbestryders drie maande se intensiewe opleiding ingevolge die Grondwet én Strafproseswet ontvang het.

Crezane Bosch, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng, sê die party het vrae aan die Gautengse provinsiale wetgewer gerig om vas te stel of die nasionale reguleringsprosesse gevolg is met die bekendstelling van die misdaadbekampingseenheid.

“Die Stad Kaapstad het streng regulatoriese prosesse gevolg voordat die LEAP-program van stapel gestuur is. Indien Gauteng nie dieselfde prosesse gevolg het nie, moet Lesufi se program gestaak word totdat dit aan die nasionale wetgewing voldoen.

“Ons kan nie bekostig om misdaadbestryders op straat te hê wat nie aan die regulasies voldoen nie. Dit kan die lewens van Gautengers in gevaar stel,” sê Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.