Life Esidimeni: Valke en Kie. lê beslag op bates in Waterkloof

Die Valke het Vrydag in samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid (AFU) en die balju van die hof in Pretoria-Oos op miljoene rande se bates in die luukse woonbuurt Waterkloof beslag gelê.

Dié bates behoort aan Kishan Jawaharlal, direkteur van Kish Gas, wat daarvan beskuldig word dat hy saam met verskeie medepligtiges soveel as R5 miljoen wat vir Life Esidimeni bedoel was, geplunder het.

Die medepligtiges is werknemers van A re Ageng, ’n nie-regeringsorganisasie in Randfontein.

Verskeie luukse motors asook ’n kommersiële perseel met industriële opwekkers en toerusting met ’n groot herverkoopwaarde is van die bates waarop beslag gelê is.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, sê die gesteelde geld is deel van R10 miljoen wat vir die eertydse Life Esidimeni-sentrum bedoel was vir die gebruik van die sentrum se fasiliteite as ’n dwelmrehabilitasiesentrum deur die Gautengse departement van gemeenskapsontwikkeling.

Die DSO sou die sentrum gebruik nadat die departement van gesondheid besluit het om die sentrum voortaan nie meer vir pasiënte met geestesversteurings te gebruik nie.

Daar was in daardie stadium planne om Life Esidimeni in die Lewenshulpbronnesentrum (LRC) te omskep.

Die departement van gemeenskapsontwikkeling het R5 miljoen in die bankrekening van A Re Angeng inbetaal, wat dit op sy beurt aan die voorgestelde lewenshulpbronnesentrum moes betaal. Die oorbetaling van dié geld het egter weens ’n dispuut tussen A Re Angeng en die departement gesloer.

In die proses om die dispuut by te lê het drie werknemers van A Re Angeng – Dimpho Mafu, Itumeleng Moema en Nomawethu Kunene – saam met Jawaharlal ’n skema bedink om die R5 miljoen na bewering te steel.

“Moema het glo ’n valse identiteit onder ’n skuilnaam geskep. Hy het dié skuilnaam gebruik om ’n e-posadres te skep waarmee hy ’n versoek vir die aankope van brandstof na Kish Gas gestuur het.

“Jawaharlal het vervalste fakture vir dié transaksie uitgereik, waarna Mafu en Kunene op ’n bedrieglike wyse toegang tot A Re Angeng se internetbankrekening verkry het en Kish Gas as ’n begunstigde gelaai het.

“Hulle het gevolglik R5 miljoen in Kish Gas se rekening inbetaal,” sê Mjonondwane.

Mjonondwane sê voorts dat Jawaharlal onmiddellik gepoog het om die geld deur sy verskeie sakevennote te laat was, onder wie Glenn Agliotti, wat aan Jawaharlal opdrag gegee het om R820 000 van die R5 miljoen aan Parchment Trading (Pty) Ltd oor te betaal waarvan sy vrou, Lelani Agliotti, die alleendirekteur is.   

Jawaharlal het die oorblywende geld gebruik om sy skuld mee te betaal, onder meer aan verskaffers en kliënte van Kish Gas. Hy het later ’n groot gedeelte van die geld met sy medebeskuldigdes gedeel. 

“Die Gauteng provinsiale tesourier het gevolglik ’n R5 miljoen verlies weens dié bedrog, diefstal en geldwassery gely,” sê Mjonondwane. 

Volgens Mjonondwane gaan die beskuldigdes op aanklag van onder meer bedrog en diefstal vervolg word.

“Hulle sal op 19 Augustus in die landdroshof in Randburg verskyn sodat ’n verhoordatum vasgestel kan word.”

Die beslagleggingsbevel, wat AFU op 22 Julie bekom het, sluit volgens Mjonondwane ook die bates in van derde partye wat direk en indirek voordeel uit dié misdade getrek het, sowel as eiendom wat uit die opbrengs van dié misdade geskenk is.

“Die ondersoek na opsporing van nog bates duur voort. Die beskuldigdes is tans op borgtog vrygelaat en sal volgende maand in die hof verskyn,” sê Mjonondwane.

“’n Bevel om die gesteelde geld terug te kry kan moontlik ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (artikel 121 van 1998) toegestaan word indien die beskuldigdes skuldig bevind word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel ·

Dit is alkes goed en wel..maar nog steeds geen
Regeringsamptenaar vervolg nie

Casper ·

Kan iemand iets vir my verduidelik.Vyf miljoen rand en hulle gaan tekere of dit vyftig miljoen rand is.Wanneer word daar beslag gelê op die bates van die Estina suiwelprojek sondebokke.Die Guptaa myn Tegeta.

Wielspore ·

Hierdie ondersoek sleep al voete van 2018 af, bly dat dit begin resultate oplewer en hoop terselfde tyd dat dit deel is van CR se belofte om alle bedrog wat gepleeg is ondersoek gaan word en die skuldiges die nodige optrede kan verwag.

Sê maar net ·

Hierdie mense is gewetenlose kriminele wat níks oorhet vir hul medemens nie. Ek hoop hulle sit lank. Absoluut laakbaar :(
Hulle gaan almal net soos die res van ons voor Vader se Regterstoel moet verskyn. ……

Johanncb ·

Hoe meer ek van al die bedrog in ons land lees, hoe banger word ek vir die toekoms!

JM ·

Die skurke se vindingrykheid is verstommend! SLUIT HULLE TOE, PERMANENT!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.