Liggiefees skitter danksy weldaad

Sonder die skenking van die kragopwekker sou die Jakaranda-kinderhuis se Liggiefees nie Desember kon voortgaan nie. (Foto: Jakaranda-kinderhuis Liggiefees)

Die Jakaranda-kinderhuis se immergewilde Liggiefees sou nie die afgelope Desember kon voortgaan sonder die skenking van ʼn kragopwekker en brandstof nie.

Só sê Charlene Grobler, hoof van die kinderhuis, aan Maroela Media. Dié fees het Desember sowat 64 000 mense gelok.

“Ten spyte daarvan dat die weer deurgaans wonderlik was, was daar elke dag beurtkrag, soms tot vier uur op ʼn slag. So iets maak ʼn Liggiefees bykans onmoontlik.”

TWSSA Power, ʼn geakkrediteerde verskaffer en installeerder van industriële kragsisteme, het egter tot die fees se redding gekom en vir die duur van die fees ʼn kragopwekker en brandstof beskikbaar gestel.

Volgens Rudolph Briedenhann, direkteur van TWSSA Power, is dit nie die eerste keer dat die maatskappy by liefdadigheidswerk betrokke raak nie.

“Ons maatskappy het ʼn groot passie vir bejaardes en kinders, veral dié in nood. Ons voel dat ons na hulle moet omsien,” sê Briedenhann.

Die Liggiefees het vanjaar sowat 64 000 besoekers gelok. (Foto: Jakaranda-kinderhuis Liggiefees)

TWSSA Power was die afgelope jaar onder meer betrokke by die herstel en leen van ʼn kragopwekker vir die Deutsches Senioren Wohnheim, die Duitse ouetehuis in Groenkloof, Pretoria, asook die skenking van ʼn kragopwekker vir die Van Rensburg-ouetehuis in Danville. Hulle installeer ook tans vir die Louis Botha-kinderhuis ʼn kragopwekker.

“Dit is soms moeilik, want hoewel daar baie nood is, kan jy nie altyd vir almal gee nie. Ons doen dit soos wat ons tyd het,” voeg Briedenhann by.

Volgens Grobler het die Liggiefees die afgelope feestyd die beste gevaar in terme van skenkings en besoekers in die fees se geskiedenis.

“Die terugvoer wat ons oor die fees kry, is nog net positief. Mense is so tevrede met wat ons aangebied het, van die kunstenaars tot die kos en natuurlik die liggies.

“Dit is vir ons baie belangrik om ʼn ruimte te skep waar gesinne tydens die feestyd saam kan asem skep en gehaltetyd deurbring en ek dink ons het vanjaar weer daarin geslaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Perdeby ·

Nie geweet dit was kersfees gister nie. ‘n maand later?

Adri ·

Ons was Desember by die Liggiefees – wonderlik en fantasies. Selfs toe die krag afgaan en alles stikdoner was vir ‘n paar sekondes voor die Generator ingeskop het, was die atmosfeer gemoedelik. Verseker weereens heel bo aan my to-do lys vir eerskomende Desember.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.