Lilo binnekort by nuwe tuiste

Lilo is byna reg om na haar nuwe tuiste te gaan. (Foto: Bloemfontein DBV)

Lilo, ʼn Vrystaatse brakkie wat vroeër hierdie maand tydens ʼn inbraak met ʼn mes gesteek en ernstig beseer is, het reeds sodanig herstel dat sy binnekort na haar nuwe permanente – en veilige – tuiste sal kan gaan.

Maroela Media het vroeër berig die vyf maande oue Lilo se eienaar het inspekteurs van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) na haar huis in ʼn informele nedersetting ontbied waar die hondjie vermoedelik met ʼn mes gesteek is.

Lilo was alleen tuis toe ʼn boosdoener die erf binnegekom het. Lilo het oënskynlik op die persoon afgestorm – om te speel – maar die persoon het haar met ʼn mes in die nek gesteek. Die hondjie het heelnag in ʼn plas bloed gelê voordat haar eienaar die volgende oggend op haar afgekom het.

Sy het die hondjie aan die DBV oorgegee omdat Lilo nie as waghond sou deug nie. Die DBV sê hy is gekant teen die aanhou van honde vir veiligheidsdoeleindes.

Mense het hul harte vir die hondjie oopgemaak en genoeg geld is ingesamel sodat sy ʼn operasie kon ondergaan om haar weer op die pad na herstel te plaas. Die messteek het onder meer skade aan die weefsel in haar nek, long, tragea en ander organe veroorsaak.

“Klein Lilo is ʼn sterk hond en het die operasie oorleef. Ons het groot dankbaarheid vir die veearts wat Lilo geopereer het. Sy was aanvanklik baie bang, maar met liefde en sorg is sy nou ʼn vriendelike, liefdevolle hond,” sê die DBV.

Lilo lê deesdae lekker weg aan haar kos en daar was verskeie aansoeke om haar aan te neem.

Die aannemingsproses behoort binnekort afgehandel te wees, waarna Lilo na haar tuiste sal gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Aai ·

Sprinkaan sou ‘n beter naam gewees het.Sterkte Lilo hoop jy kry ‘n goeie huis.

Maggies ·

Ek hou van jou naam keuse???? My kat se naam is Muskiet, My Jack Russell se naam is Tjiekie en my Lovebird se naam is Vlooi. Suiwer Afrikaanse name pas mooi by Afrikaanse diere. O en my skilpad se naam is Kaptein.

Dries ·

Ag dankie tog, so bly om goeie nuus ook te kan lees. Geniet jou nuwe lewe, liefste Lilo. Ek hoop daardie boosdoener kry wat hom toekom, waar hy ook al rond seil nou.

Annakapat ·

Dankie aan almal betrokke by haar redding!
Weerlose dingetjie. Hoop jy het ‘n wonderlike lewe wat op jou wag.

Plaaskind ·

Lilo lyk ook nou baie meer gelukkig as op die vorige foto’s. So bly dat hondjie nuwe huis gekry het.
Mag die hondjie oorlaai word met liefde.

Janee ·

Ounooi se honne!…Ons hoop sy goeie en liefdevolle huis….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.