Limpopo-boere pleit om hulp: ‘Alles brand dood’

(Foto: Verskaf)

“Die Bosveld is tans ondraaglik. Dit is die ergste hitte wat ons in agt jaar ervaar.”

Theresa Fourie van Koedoesrand in Limpopo sê as die kwik eers op 43 °C draai en die Bosveld bak, vrek alles wat nie reeds doodgebrand het nie.

“Dan sit ons boonop met beurtkrag, soos almal maar doen; die spilpunte kan nie lank genoeg loop om die gewasse te voed nie. Alles vrek,” sê sy.

TLU SA het Vrydag ʼn veldtog aangekondig waarin Suid-Afrikaners versoek word om boere in droogtegeteisterde gebiede te ondersteun.

“ʼn Opdraande stryd staar ons boere in die gesig om hul diere te voer te midde van ʼn droogte in sommige gebiede. Tot dusver het ons nog nie ʼn druppel reën in die Koedoesrand-omgewing gehad nie. Daar is geen gras in sig nie,” sê Danie Prins, TLU SA Noord-streekbestuurder.

Stel jou voor jy is ’n vyfde geslag- boer wat nou moet toekyk hoe jou diere een vir een vrek, sê Prins.

“Dit laat jou krul van die pyn. Die emosies wat boere ervaar wanneer hul diere vrek, is egter nie die enigste tragiese impak wat droogte op boere het nie. Daar is ook ʼn skuldlas weens die voortdurende aankoop van voer om die diere te voed – ’n las wat bly groter word.

“Sommige boere moes reeds die baie moeilike besluit neem om hul uitgeteerde diere te slag omdat hulle nie wil sien hoe die diere verder swaarkry nie,” sê Prins.

ʼn Boer van Maasstroom, ook in Limpopo, sê die boere in die gebied steier onder die droogte.

“Die meeste van ons het op 15 Februarie laas reën gehad, vir dié somer het sommige hier en daar ʼn klein bietjie reën gekry, maar op die meeste plekke in ons gebied was daar nog geen reën nie.

“Die wild is maer en swak ondanks die voer wat ons gee. Baie jong volstruise het gevrek, die vlakvarke is ook besig om te vrek, die koedoes en rooibokke is uitgeteer en maer.

“Dit is baie emosioneel vir ons boere, ons almal vat dit baie erg. Daar is wel water vir die besproeiingsboere uit die Glen Alpine-dam uitgelaat, maar sonder baie goeie reënval is daar nie meer genoeg water in die dam oor vir nog ʼn uitlating nie.

“Ons bly bid en vertrou dat ons Here op sy tyd vir ons reën sal gee. Ons boere is hier om te bly omdat dit ons passie is en ons graag goeie rentmeesters vir die Here wil wees en bly,” sê hy.

Foto: Bennie van Zyl (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Pieter Welgemoed, ʼn boer van Thabazimbi, sê die plantmateriaal vir weiding se voedingswaarde is maar min die afgelope jaar.

“Ons het gedurende die winter groot vrektes onder vee, wild en selfs voëls gehad.

“En nou ervaar ons bedags abnormale hoë temperature.”

Selfs die ysterpale het verlep, het hy vroeër ʼn boer by ʼn veiling hoor skerts, sê Welgemoed.

“Die bietjie groei van Oktober se reën is besig om vinnig weg te brand. Ons boere is egter hoopvol en vertrou op reën voor die nuwe jaar, anders sal ons moet regmaak om af te skaal,” sê Welgemoed.

“Glo my, ons boere se oë is in afwagting vir weer op die horison. Maar eintlik weet ons waar ons hulp vandaan kom.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dit is belangrik om in ag te neem dat dit nie net boere is wat deur droogte geraak word nie.

“Dit raak plaaswerkers, gesinne, gemeenskappe, die bedryf en ook voedselsekerheid. Dit raak die hele Suid-Afrika.

“Landbou in Suid-Afrika het ʼn ryk geskiedenis wat deur die sukses van familieplase gedryf word. Dit is hierdie plase wat vandag nog aansienlik bydra tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP). Dit is ook hierdie kommersiële plase wat verseker dat daar steeds voedsel op verbruikers se tafels is,” sê Van Zyl.

  • TLU SA het ʼn beroep op mense gedoen om boere te ondersteun deur ʼn finansiële bydrae tot TLU SA se Traumafonds te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet parys ·

Nee wat as dit by geldige hulp aan n ramp in landbou en droog geteisterde boere kom ( Belastingbetalers) voel die Anc regering niks tot daar nie meer boere is nie en wat dan maar druk miljoene in spoornet wat deur onbevoegde mense veroorsaak is en kaders van die regering is.

Johanna Aletha ·

Kan ons nie vra vir ń nasionale biddag vir reën nie. Hoe gaan mens te werk.

honeybee ·

Voel so jammer vir die boere. Ek het self op n plaas in Limpopo groot geword, onthou nog hoe my arme pa partymaal so moedeloos geword het.

Pieter ·

Hierdie mag dalk nou onvanpas klink, maar daar is niks lelik daarby bedoel nie.
Ek help altyd met skenkings vir boere in nood, maar ek wil bietjie n beroep doen op die boere ook, om die publiek te ondersteun, ons trek net so swaar. Begin julle produkte direk aan die publiek verkoop, sodat ons nie die mal pryse in die winkels hoef te betaal nie. Ek het a hoeveel kere by boere direk probeer koop, en elke keer se hule my as jy nie a trok vol aartappels byvoorbeeld vat nie, stel hulle nie betang nie. Julle moet ook bietjie julle deel bring , wanneer dit met julle goed gaan.

Eclectus ·

Wetenskaplikes het reeds 40 jaar gelede geprojekteer dat teen 2030 Suid-Afrika een van die top 10 droogste lande ter wêreld gaan wees.

Danie ·

Ek voel ook jammer vir hulle, maar as ek sonder werk sit help nie een van hulle my nie. Hy ry by jou verby waar jy by die robot staan en kyk neer op jou en sal eerder se ja sleg wat soek jy.

Goldy ·

Danie, jy veralgemeen nou. Alle boere wat ek ken skep werk, help waar hulle kan. Baie boere en sakemense het al vele male werk by stopstraat aangebied maar nee, die geldjies by die stopstraat is aanlokliker as harde werk op die konstruksieterrein. Weereens wil ek nie veralgemeen nie, daar is baie wat nie werk kan kry nie, maar baie wat nie wil werk vir n realistiese bedrag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.