Loonooreenkoms: Prasa in arbeidshof oor verhogings

(Argieffoto: Untu)

Die United National Transport Union (Untu) het Donderdag bevestiging van sy regspan ontvang dat sy dringende aansoek teen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in die arbeidshof beteken is.

Dié aansoek het ten doel om die staatsbeheerde Prasa te dwing om die 5%-salarisverhoging te betaal waarop daar reeds in ʼn langtermyn loonooreenkoms ooreengekom is.

Dié stappe volg nadat Prasa versuim het om die betaling aan die einde van April 2021 te doen.

Sonja Carstens, woordvoerder van Untu, sê dit is die tweede keer dat Untu die arbeidshof nader om die betaling van die huidige multitermyn loonooreenkoms af te dwing.

Untu het in Desember ʼn dringende aansoek teen Prasa ingedien nadat hy ná kollektiewe bedinging nie die eerste jaar van die multitermyn ooreenkoms wat in September verlede jaar gesluit is, betaal het nie.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê kollektiewe onderhandeling is ʼn fundamentele reg in die Grondwet.

Maroela Media het vroeër berig Untu versoek die hof, as bewaarder van die Grondwet, om nie toe te laat dat die regering voortgaan om die regte van werkers te misken en eenvoudig kollektiewe ooreenkomste te ignoreer nie.

Harris sê toe Untu die loonooreenkoms onderteken het, het die vakbond die reg van sy lede laat vaar om te staak. “Prasa was vasberade om ʼn multitermyn ooreenkoms aan te gaan om ʼn stabiele werksomgewing te verseker. In ruil daarvoor het Prasa onderneem om nie in dié tyd met enige afleggings voort te gaan nie. Untu sal geen steen onaangeraak laat om seker te maak dat Prasa-werknemers die verhoging kry waarop hulle geregtig is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tubac ·

Sal maar van die kaders se buitelandse fondse moet konfiskeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.