‘Los ons kinders se toilette uit!’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Sung Jin Cho/Unsplash)

Duisende mense het hul name onder ʼn petisie geteken wat die onderwysdepartement se voorgestelde planne om niegenderspesifieke toilette by skole in te stel, teenstaan.

Die petisie is skaars ʼn dag gelede opgestel, maar teen Dinsdagmiddag het dit reeds meer as 52 000 handtekeninge gelok, met mense wat hul misnoeë oor die voorstel uitspreek. Met elke minuut wat verbytik, teken nóg mense boonop die petisie.

Indien die petisie 75 000 handtekeninge kry, sal dit een van die petisies op Change.org wees wat die meeste handtekeninge gekry het.

Die departement van basiese onderwys wik en weeg tans oor die idee om skole meer “inklusief” en “toeganklik” te maak vir kinders van alle seksuele oriëntasies en oortuigings. Dit sluit in om weg te doen met genderspesifieke voornaamwoorde, die aanpassing van die kurrikulum en die daarstel van niegenderspesifieke toilette.

Rudayba Rasool van Athlone, Kaapstad, wat die petisie opgestel het, voer aan dat dit bykans onmoontlik sal wees vir ouers om hul kinders by skole te beskerm, sou dié soort toilette wel ʼn werklikheid word.

“Toilette is privaat en om voor te stel dat meisies en seuns dit moet deel, sal baie sosiale euwels meebring,” sê sy.

“As ʼn verantwoordelike ouer kan ek nie hierdie planne goedkeur nie.”

Die petisie sal na verwagting aan die departement van onderwys oorhandig word om sodoende te sê dat “ons nie geswaai sal word nie – die veiligheid van ons kinders word in die Grondwet vervat en jy [die departement] sal nie ons regte skend nie”.

Hoewel ʼn dokument met hierdie voorstelle nog nie amptelik deur die departement aanvaar is nie, is die departement besig om met verskeie rolspelers te beraadslaag, voordat dit na die onderskeie provinsies gestuur word. Dit sal na verwagting in 2023 oopgestel word vir openbare kommentaar.

Sommige Suid-Afrikaners wat die petisie onderteken het, voer in hul kommentaar aan dat niegenderspesifieke toilette ʼn broeiplek vir opportunistiese misdadigers sal wees.

“Ek stem nie saam met niegenderspesifieke toilette nie – nie weens transgender individue se teenwoordigheid daar nie, maar weens al die misdadigers wat badkamers met onskuldige slagoffers sal kan deel,” skryf een bekommerde burger.

“Hou op om Kanada en die VSA se voorbeeld te volg en leer om ons eie land se waardes te respekteer,” sê nog iemand.

Talle mense meen ook dat niegenderspesifieke toilette inbreuk maak op mense se reg op privaatheid, terwyl ander aanvoer dat dit kinders se seksualiteit vroeër as normaalweg sal aanwakker.

“Dit sal ʼn lagwekkende besluit wees, sou dit ooit gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Die goeie nuus is dat hierdie bose regime uiteindelik voor God sal staan en dan sy Hy hulle straf vir hul bose planne en dade. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. Ons vertrou dat elkeen van die meer as 70% Christene, volgens die statistiek, sal opstaan teen die bose planne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.