LP’s kyk Saterdag sélf hoe lyk omstrede Beitbrug-grensdraad

Die grensdraad tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is lankal reeds beskadig.

Verskeie LP’s besoek Saterdag die Beitbrug-grenspos om self na die 37 km lange grensdraad te kyk wat as deel van ingrypings teen die verspreiding van Covid-19 opgerig is.

Lede van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor) se portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur, asook die portefeuljekomitee oor binnelandse sake is tydens onderskeie vergaderings op die hoogte gebring van die verkrygingsproses wat gevolg is vir die heining, die bou daarvan, asook die gevolglike ondersoek wat daarna van stapel gestuur is.

Dié ondersoek het verskeie voorvalle van wangedrag tydens die verkryging- en bouproses aan die lig gebring, waarna die komitees besluit het om self die perseel te besoek om vas te stel presies waarvoor die belastingbetaler opgedok het.

Die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur is uiters bekommerd oor die gebrekkige stelsels in die departement van openbare werke wat veronderstel is om wanpraktyke en korrupsie in die verkrygingsproses te stuit.

Skoor het reeds gevra vir ʼn omvattende ondersoek na die minister van openbare werke, Patricia de Lille, se direktief oor die verskaffing van die heining.

Maroela Media het vroeër berig die verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na die omstrede grensdraad het uitgelek – en dit lyk nie goed vir De Lille nie.

Luidens die verslag het De Lille op 16 Maart ʼn opdrag aan adv. Sam Vukela, direkteur-generaal van openbare werke, gegee dat die hele tenderproses binne vier dae afgehandel moet word en dat sy weekliks op die hoogte gehou moet word.

De Lille het dié opdrag glo twee dae vóór die instelling van die afsonderingstydperk se regulasies gegee, wat beteken haar gedrag was onwettig.

Die grensdraad is 20 km weerskante van Beitbrug op die grens van Zimbabwe opgerig.

Die DA het vroeër na dié grensdraad verwys as “ʼn wasgoeddraad wat amper R1 miljoen per km gekos het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johan ·

Hierdie plesier -trip gaan die belastingbetaler seker weer R120 miljoen kos vir reis en verblyf.

nell ·

Regtig?! Wat is daar om te besigtig wat hulle nie op video kon ”besigtig” nie?

Kokerboom ·

Die grens is nie net 40km lank!!!!Raak asb ontslae van De Lille. Sy is ‘n las

marius ·

Het hulle elkeen ‘n kos pakkie en ‘n kartonnetjie sap gekry op die bus ?

Termiet ·

Lekker bosveld weg reek op die blasting betalers se reken ing.

Joe Olivier ·

En nou gaan daar seker n kommissie aangestel word om die lp’s se bevindinge te ondersoek.

Eerlik ·

Pruik het mos n baie elite kommissie wat bietjie iets kan doen vir die miljoene wat hulle verdien!!

Persheks Adri ·

Goeie genade ons betaal mos lekker vir die gemors! Absoluut ‘n mors van ons geld. Wanneer sit iemand nou in oranje pakkie ons wag in spanning!!!

johanf ·

Wonder hoeveel van die klomp weet hoe ń grensdraad moet lyk…

Sarel ·

Hulle soek alweer vakansie nou gaxn hulle kamtig die Grensdrasd inspeteer. Kan onz hoor waar hulle gaan bly en dieckostes, insluitende Kentucky?

Jakes ·

Nogal ooglopend dat Maroela nie kommentaar uitlok oor die Clicks advertensie nie.

Scalla ·

Ondersoek eerder die wat in die ry gestaan het en wat sy deel gekry het voordat die een wat die werk gedoen het betaal is, wie het dit gemagtig???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.