Luister: Babette nou ‘vreesloos’ ná borskankerstryd

Babette kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Die sangeres en liedjieskrywer Babette Labuschagne was in die fleur van haar lewe toe sy in 2020 tydens die pandemie-inperking in die ouderdom van 32 met borskanker gediagnoseer is.

Die diagnose was ʼn skok aangesien sy glad nie siek of sleg gevoel het nie. Babette vertel in Maroela Media se ateljee sy was die oggend op pad apteek toe vir ʼn griepinspuiting toe sy ʼn knop in haar bors voel in die stort.

“Ek het nie veel daarvan gedink nie, maar toe ek by die kliniek kom, het ek vir ʼn suster gevra om ʼn ondersoek te doen. Sy het gesê die knop voel vir haar hard en ek moet eerder gaan vir ʼn skandering by ʼn radioloog.”

ʼn Mammogram en ʼn biopsie later is Babette met aggressiewe trippel- negatiewe borskanker gediagnoseer.

Haar familie het geen kankergeskiedenis nie. “Dit was die eerste keer wat ek in my lewe met kanker te doen gekry het.”

Sy vertel sy het vir die eerste drie dae ná die diagnose net in die bed gebly en gehuil. “As hulle dit vir jou sê, voel dit onwerklik. Dit het gevoel asof my siel nie in my liggaam is nie. Jy word ook so vinnig deur ʼn behandelingsproses gedruk en jy kry soveel inligting, jy weet nie regtig wat om daarmee te doen nie.”

Haar gesin, wat almal baie geheg is aan mekaar, het elkeen die nuus verskillend hanteer. “My ma was my emosionele ondersteuning, maar ʼn mens besef nie altyd die mense rondom jou vat dit erger as wat jy dit self vat nie. Hulle sal dit net nie altyd vir jou sê nie.”

Sy het elke haartjie op haar liggaam verloor weens die strawwe chemoterapie wat sy ontvang het. Sy het vier rondes van die sogenaamde Red Devil-chemo ontvang, en 16 rondes van ʼn ander tipe chemo. Sy het ook ʼn dubbele mastektomie ondergaan.

Babette vertel sy het juis vroeër daardie jaar haar honneursgraadstudies hervat en moes dit uiteindelik staak om die kanker te beveg.

Vandag is Babette kankervry, maar haar lewe is vir altyd handomkeer verander deur die diagnose.  Tog inspireer die pad wat sy met haar diagnose gestap het nou haar nuwe musiek.

Die vervaardigers van die VIA-program, Herman en die ladies, waarin koskenner en sjef Herman Lensing met kankeroorwinnaars gesels, het Babette genader om die temalied vir die program te skryf.

Dié Afrikaanse snit, getiteld “Vreesloos”, is uit Babette se pen en is die enigste Afrikaanse liedjie op haar jongste album, getiteld Unbreasted.

Babette het egter ʼn lang geskiedenis in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy vertel sy het as klein dogtertjie net in sang belanggestel en het later begin sanglesse neem.

Op hoërskool het sy reeds kontrakte gekry om liedjies te skryf en op te tree. Haar album, X-meisie, is in 2008 uitgereik.

“Ek skryf deesdae baie meer hoopvol, waar ek in die verlede meer hartseer was, want ek weet ʼn mens kan deur slegte goed kom.

“Die reis met kanker het my dieper, wyser en meer deernisvol gemaak. Dit dra oor in my musiek.”

“Vreesloos” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Herman en die ladies is Woensdae om 18:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Babette Labuschagne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.