Luister: Tshwane se Brink bou g’n lugkastele, wél ʼn metro

Cilliers Brink glo vas die hoofstad kan, ten spyte van beroerde finansies, omgekeer word. (Foto: Verskaf)

ʼn Helse slaggat kelder amper die onderhoud met die nuwe burgemeester nog voor dit begin. Op pad na Tshwane House in die Pretoriase middestad is die verval duidelik. Rommel langs die pad. Die immerteenwoordige slaggat. ʼn Verkeerslig wat nie werk nie. Straatligte wat bedags brand (maar nie snags nie). ʼn Huis het ʼn ferm hand nodig. Instandhouding. Want as daai instandhouding afwesig is, verkrummel die mure lateraan.

Is Cilliers Brink daardie ferm hand?

“Die enigste versekering wat ek kan gee, is dat ek baie hard gaan werk om ʼn sukses te maak van hierdie koalisie en om seker te maak dat Tshwane nie soos ander stede verval nie,” sê Brink wat verlede week sy intrek in die burgemeesterskantoor geneem het.

Sy voorganger se geskiedenis was nie goed nie. Dr. Murunwa Makwarela was kortstondig in die amp voor sy burgemeestersloopbaan in die beskuldigdebank geëindig het.

Dat daar dus baie kastaiings is om uit die vuur te krap, is nie altemit nie.

Begin by benarde finansies

Brink en sy nuwe burgemeesterskomitee is die afgelope paar dae gewikkel in die een vergadering ná die ander – onder meer om te probeer uitpluis presies wat met die stad se beroerde finansies aan die gang is. Die stad en sy bestuurspan is in Januarie in reuseverleentheid gedompel deur die ouditeur-generaal (OG) se ongunstige ouditverslag oor die hoofstad se finansies.

Niemand het behoorlike verantwoordelikheid hiervoor aanvaar nie en daar was oënskynlik ook weinig aanspreeklikheid. Brink sê dit is kritiek wat die DA en sy koalisievennote moet verduur.

“Die toesigrol van politieke leiers was nie deeglik genoeg nie; dit was nie aggressief genoeg nie en daar was uitermate steun op die raad en aanbevelings van die amptenary.”

Dit verander nou en die eerste stap is om beheer te neem van die stad se finansies.

“Die uitgawes oorskry die inkomste al geruime tyd. Daar is duidelik ʼn gebrek binne die administrasie aan bewustheid dat besnoeiings gedoen moet word. Ons gaan lyn-item vir lyn-item deur die hele begroting en ons kyk wat die realistiese inkomste is wat die stad kan kry.

“Dit gaan noodwendig gepaard met ʼn finansiële herstelplan wat nie ʼn lugkasteel is nie. Die huidige finansiële herstelplan – en die finansiële bestuurder stem hiermee met my saam – is nie geloofwaardig nie. Dit moet aangepas en bygewerk word.”

Tshwane het tot 14 April uitstel gekry om sy aanpassingsbegroting af te handel – of nóg ʼn tydperk onder administrasie kan voorlê. Die stad was reeds een keer, vir sewe maande, onder provinsiale administrasie (wat beteken hy moes sy mag aan die Gautengse regering oorgee) en Brink sê hulle sukkel steeds om die verwoesting wat in daardie tyd gesaai is, ongedaan te maak.

Die begroting is dus allerbelangrik. Dit is veronderstel om op 13 April voor die raad te dien en ʼn dag later moet dit deurgevoer wees.

“In daardie begrotings word ʼn hele paar maatreëls aangekondig. Dit gaan nie gewild wees nie. Moeilike besluite sal geneem moet word, want anders is ons situasie nie volhoubaar nie. Daar moet waarde vir belastingbetalers se geld wees – en dit beteken daar gaan weerstand wees.”

Dit beteken ook baie meer regstreeks betrokke bestuur.

“Ek kan nie in hierdie kantoor vasgekeer wees nie. Ons moet plekke besoek om te kyk of die werk gedoen word. Jy moet ook ʼn voorbeeld stel vir die amptenary,” sê Brink.

Bestanddele vir koalisiesukses

Brink en die burgemeesterkomitee se eerste prioriteit is om die metro se geldsake reg te ruk. (Foto: City of Tshwane/Twitter)

Dit het drie probeerslae gekos voor Brink tot burgemeester verkies is en tussenin was daar nog die debakel met die merk van stembriewe vir die verkiesing van die speaker. Intussen moet hy ʼn moeilike koalisie in die stad help bymekaarhou.

“Dit is ʼn papierdun meerderheid. Elke raadsvergadering is ʼn moontlike dreigement vir die voortbestaan van die koalisie.”

Hoe gaan hy dit bestuur?

“Met ʼn baie sterk sweep. Letterlik,” is Brink se antwoord hierop. Die hoofsweep in die raad gaan moet verseker elke koalisieraadslid is op sy pos wanneer hulle daar moet wees. Enige afwesigheid en die kaartehuis tuimel dalk net inmekaar.

“Wyksraadslede is die gesig van die stad en van dienslewering en hulle is onder verskriklike druk. Ek moet by lede van die publiek pleit vir simpatie vir die situasie van wyksraadslede. Baie van hulle probeer nog ander werk ook doen. Ons probeer bekwame mense kry; soms is politiek nie al wat hulle doen nie.

“Vir ons om die regering aanmekaar te hou, gaan daar egter baie sterk dissipline gehandhaaf moet word om raadsvergaderings by te woon.”

Brink, ʼn toegelate advokaat, is ʼn voormalige Tshwane-burgemeesterskomiteelid. Hy is later tot DA-LP verkies en het later weer na die Jakarandastad teruggekeer in wat dalk soms na ʼn politieke dobbelspel moes gelyk het.

“In die eerste plek is ek lief vir Pretoria, ek is lief vir die stad. My huis is hier. My vrou werk hier en my kinders gaan hier skool. Ek was nog altyd ʼn verteenwoordiger van hierdie stad in die parlement. Ek is nie ʼn Kapenaar wat nou hier ontplooi word nie.”

Hy glo die stad se koalisieregering – ʼn meerderheid tussen die DA, VF Plus, ACDP en die IVP – het die “onderliggende bestanddele” om sukses te behaal. Anders as in byvoorbeeld Johannesburg of Ekurhuleni, waar die koalisie nie ʼn meerderheid het nie, is dit in Tshwane wel die geval. “Ek het verwys na ons papierdun meerderheid, maar dit is steeds ʼn meerderheid.”

Hy glo die koalisievennote in Tshwane (DA, Action SA, VF Plus, ACDP en IVP) het ʼn samehorigheid ondanks persoonlikheid- en beleidsverskille en kan breedweg saamstem oor ʼn plan van aksie wat hulle bymekaar kan hou.

“Hierdie koalisie gaan getoets word. Ons gaan oor baie moeilike, ingewikkelde begrotingsmaatreëls moet saamstem.”

As Brink die stad gaan lei soos hy ʼn media-onderhoud bestuur, is Tshwane waarskynlik in goeie hande. Hy dwaal nie sommer af nie; en indien wel, kom hy gou weer tot die punt.

“Enige jong, ambisieuse persoon – dalk naïef – soek na ʼn uitdaging, ʼn projek om aan te pak. As dit suksesvol is, voel jy dat jy ʼn bydrae kan maak en mense se lewe verander – die trajek van die politiek verander, in my geval.”

  • Luister hier na uittreksels uit die onderhoud met Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Di ·

Begin eerstens kyk na al die NIE gegoede buurte waar dienslewering totaal ontbreek. Pta Middestad is beslis ook ‘n plek wat dringend aandag kort. Die stad is oorgeneem deur delm gebruikers, werkloses wat op sypaadtjies bly, kriminele wat mense teister en vuilgoed word orals gestort. Kan nie eers onthou wanneer laas ek Munisipale dienste hier sien gebeur het nie.

JuanRe ·

Dis altyd vir my so hartseer om te sien hoe die middestede verval het en hoe pragtig dit was!!

Pietertjie ·

Ek hou nie my asem op nie. Het al te veel hoop geplaas op politieke beloftes. Kom ons kyk hoe vinnig volg die eerste mosie van wantroue, gevolg deur ‘n ANC/EFF koalisie-oorname.

Althes ·

Hou op so negatief wees. Elke treë, al is dit baba treë kom by die pad van sukses uit.

Sarel ·

Hoogtyd dat julle vir die Gemeenskap begin werk en Politieke Ideologie tweede stel.
Die Gemeenskap het ‘n stabiele Metro Raad nodig
Sterkte …

gpsa ·

Sy grootste uitdaging is om sy posisie te behou, met die huidige koalisie.
Ons kan help deur volgende jaar DA te stem.

Koos 100 ·

Of VF+, of IFP of ….. enige ander party behalwe ANC en EFF.

houopkruip ·

Vir die DA stem ?
Die ou NP ?
Verseker nie.
Wel vir een van die partye in die koalisie, wat die ANC, EFF, ens hopelik sal uithou.

Gertdup ·

Ons hoop is nou op hom en sy span.Baie sterkte,ons sien uit om die verbeterings te sien

Anel ·

Kom ons gee die man ‘n kans. Pleks ook die lot wat dalk weer ‘n mosie van wantroue beplan, kyk eerder waar kan julle help om die stad weer op te bou en bring julle kant. As die man nie kans kry om te wys wat hy kan doen nie hoe kan daar ‘n wantroue in hom geplaas word? Sterkte aan Brink.

Kokerboom ·

Ons ondersteun jou Cilliers Brink. Tshwane nodig ‘n ferm hand.
Wees ASB wakker vir ondermyning deur ANC werkerskorps. Slaap met een oog oop!

Sandra ·

kom ons gee hom kans, hy het in ‘n onmoontlike tyd die leisels oorgeneem, hy kan nie ‘n haas uit ‘n hoed pluk en die finansies sommer so uit die rooi trek nie. Hy het ‘n groot hap gebyt en hopelik kan hy ‘n sukses daarvan maak. Moenie hom afskiet voordat hy nog nie begin het nie. Ek stem, alle planne lyk goed op skrif, maar die bewyse is die sukses daarvan. Staan saam met hom, ondersteun hom en help hulle om die nodige deurgevoer te kry.

Patch ·

Baie sterkte met die groot taak wat voorlê. Ons Pretorianers se oë en hoop is op jou gerig.

Elmarie ·

Die kaders se modus operandi is om heeeeeltyd mosies van wantroue in te stel. So vertraag/verhoed hul dat werk gedoen word. Werk en planne word heeltyd in die wiele gery as hul nie in beheer kan wees nie. Ek hoop regtig mnr Brink kry ondersteuning en dat hy sy werk wel kan doen

Koos 100 ·

Sy bykans eerste woorde is dat hy gaan hard werk om die koalisie te maak werk. ‘n Koalisie is politiek. So politiek kom weer eerste. Nou ja, kom ek deel my siening. Heel eerste gaan alle tariewe verhoog, seker so met 20%, dat die betalende minderheid weer moet opdok vir die wat dinge gratis kry. Dan gaan hulle probeer om krag en water na die onwettige verbruikers sny, en dan gaan dinge warm word. Die ANC en EFF gaan weer mosies van wantroue inbring en heelmoontlik slaag en weer bewind oorvat. So al wat gaan gebeur is dat hierdie koalisie gaan sorg dat daar meer geld is om te plunder so ‘n jaar van nou af!

Althes ·

Alle voorspoed en Gods rykste seën oor jou Cilliers Brink

Jana ·

Baie sterkte Cilliers Brink! Ek dink baie dinge bv die koalisie, is in lyn en daar is nou ‘n goue geleentheid om Tswane ‘n beter plek te maak. Jy het ‘n massiewe taak op jou skouers. Ek sal elke dag vir jou bid. Met die Here aan jou kant kan jy die onmoontlike bereik ten spyte van al die uitdagings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.