Lydia Winchester in hospitaal

Lydia Winchester (Foto: Janie Monsieur)

Lydia Winchester, Johannesburgse musiekbemarker, is Sondag in die hospitaal opgeneem nadat sy ʼn suurstoftekort weens Covid-19 beleef het. Sy het Vrydag positief vir die virus getoets.

Volgens Ferdi Steyn, ʼn musiekpromotor van Artist Village, is Winchester in ʼn hospitaal in Johannesburg opgeneem, maar word sy nie tans in die hoësorgeenheid behandel nie.

Die sangeres Angelique Greffrath, een van die kunstenaars wie Winchester (65) bemark, het Winchester Sondag hospitaal toe geneem. Sy het aan Maroela Media gesê sy het bekommerd geraak toe Winchester se selfoon teen 09:00 nog nie aangeskakel was nie. “Gelukkig het sy my net die vorige dag sleutels vir haar huis gegee en ek het gaan kyk wat fout is.”

By haar aankoms by Winchester se huis, het Greffrath Winchester “swak en baie bleek” in die bed aangetref. “Ek het haar suurstofvlakke gemeet en gesien dat dit 81 is. ʼn Dokter het ons toe aanbeveel om haar hospitaal toe te neem.”

Greffrath sê hulle wag nog vir die uitslae van verskeie toetse wat op Winchester gedoen is.

Sedert sy die bedryf in 1986 betree het, het Winchester saam met gevierde kunstenaars soos Min Shaw, Gé Korsten, Annelie van Rooyen en Johan Stemmet gewerk. Sy het ook talle nuwelinge soos Jakkie Louw, Jan Blohm, Jennifer Zamudio en Rudi Muller onder haar vlerk geneem.

In 2017 is sy met ʼn ATKV-oorkonde vereer en in 2018 het sy ʼn eretoekenning by die Ghoemas ontvang vir haar lewenslange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf. Lydia is ook in 2019 deur kykNET vereer met ʼn dokumentêre rolprent van haar loopbaan. Dié dokumentêr vorm deel van die televisiereeks Legendes van Afrikaanse musiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.