Ma desperaat vir geregtigheid ná dogter se moord

Tessunique (Nicky) Hattingh (Foto: Verskaf)

“Ek het my kind in die lykshuis belowe ek sal seker maak haar moordenaars word gevang en toegesluit.”

Só vertel Tilly Hattingh, ʼn hartseer ma van Klerksdorp, Noordwes, maande nadat haar dogter naby hul huis in Dawkinsville met ʼn mes doodgesteek is.

Hattingh het uit desperaatheid self begin om Tessunique (Nicky) Hattingh (28) se moord te ondersoek omdat die polisie volgens haar “nie behoorlik hul werk doen nie” en “haar in die steek laat”. Sy sê sy sal nie rus totdat Nicky se moordenaars aan die pen ry nie.

Die polisie sê egter dat Hattingh se inmengery en verwydering van bewusstukke van die toneel die saak kan belemmer.

Hattingh sê hoewel dit lyk asof sy inmeng, moes sy noodgedwonge ingryp omdat die ondersoek volgens haar stilstaan. Sy sê dat sy slegs bewysstukke opgetel het wat die polisie “misgekyk” het. Dit sluit in haar kind se bebloede hemp wat in ʼn bebosde gebied tussen hul huis en dié van die verdagtes gevind is.

“Watter ander opsies het ek? Ek kan nie hande gevou sit en kyk hoe die saak geen vordering maak nie.”

Volgens Hattingh weet sy presies wie die moord gepleeg het en hierdie persone woon boonop naby aan hul huis. Sy vermoed die moord is uit wraak gepleeg, aangesien sy die verdagtes ʼn jaar gelede by die polisie aangekla het van kinderverwaarlosing.

Hattingh het aan Maroela Media gesê dat sy bewyse, insluitend stemnotas en video’s, in haar besit het wat hierdie persone met die moord kan verbind. Sy beweer een van die verdagtes het ná die moord vir haar gesê “ek moes Nicky al lankal doodgemaak het”.

“Ek sit met hierdie inligting tot my beskikking, maar die polisie steur hulle nie daaraan nie. Ek en my gesin moet elke dag probeer aangaan met ons lewens, met die wete dat Nicky se moordenaars hier naby ons woon.”

Volgens Hattingh word sy ook sedert Nicky se moord geterroriseer en glo sy vas dit is haar dogter se moordenaars wat hiervoor verantwoordelik is.

“Mense gooi klippe op ons huis se dak. Iemand het ook Nicky se kruis, wat ek opgerig het op die plek waar haar liggaam gevind is, beskadig.”

Tilly Hattingh het vir haar dogter ‘n kruis opgerig daar waar haar liggaam gevind is (Foto: Verskaf)

‘Sy is verniel’

Hattingh vertel 21 Maart was ʼn doodnormale dag; ʼn dag wat sy en haar gesin rustig by die huis deurgebring het.

“Nicky het die middag by die tannie in die huis langsaan, wat soos ʼn ander ma vir haar was, gaan kuier. Sy bly gewoonlik nie lank weg nie. Ek het bekommerd geraak toe sy teen 21:30 nog nie terug is nie. Dit is toe dat ons iemand van die hek se kant af hoor skree.

“My twee seuns, onderskeidelik 13 en 18 jaar oud, het gaan kyk wat aangaan. My jongste skree toe: ‘Mamma, Sussie lê in die straat en bloei’. Ek is in my japon en slippers die straat af.

“My kind het sonder ʼn hemp in ʼn plas bloed gelê. Hulle het haar met ʼn mes in die nek gesteek. Sy was verniel. Ek het die bloed in haar nek probeer stop, maar toe ek haar koppie oplig, het ek gesien sy is klaar weg.”

Hattingh se man, Claude, het sy T-hemp uitgetrek en onder Nicky se kop geplaas. Hy het ook sy kamerjas bo-oor haar gegooi.

“Ek het by haar gesit vir ʼn uur en ʼn half totdat die ambulans opgedaag het.”

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het bevestig dat twee persone kort ná Nicky se moord in hegtenis geneem is. Die saak is egter in Julie teen dié persone teruggetrek omdat hulle nie met die moord verbind kon word nie.

Volgens Myburgh ontbreek DNS-uitslae nog.

“Hoewel die saak teen die twee persone teruggetrek is, is die moordsaak nog ver van afgehandel. Die ondersoek gaan voort,” sê Myburgh.

Peuter met bewysstukke

Volgens Myburgh is dit van kardinale belang dat bewysstukke nie op ʼn misdaadtoneel opgetel, geskuif of verwyder mag word nie.

“Dit is die polisie se verantwoordelikheid om ʼn misdaad te ondersoek. Dit is belangrik dat die publiek met die polisie kommunikeer en saamwerk eerder as om self die ondersoek te behartig. Indien ʼn lid van die publiek inligting omtrent die saak kry, meld dit onmiddellik by die ondersoekbeampte aan.”

Myburgh het bevestig dat die polisie bewus is van Hattingh se bewerings dat die polisie nie haar dogter se moord voldoende ondersoek nie. Myburgh sê die publiek se bekommernisse moet op die regte wyse aandag kry.

“Die polisie is verbind tot professionele dienslewering en indien enigiemand ontevrede is met die polisie se dienslewering en hoe hulle ʼn saak hanteer, moet die regte kanale gevolg word sodat dit aangemeld word.”

‘Ons lewe nie meer nie’

Tessunique (Nicky) Hattingh (Foto: Verskaf)

Hattingh sê sy sou nooit dink dat iets so verskrikliks met haar kind sou gebeur het op die plek waar sy grootgeword het en veilig moes voel nie.

“Almal op die dorp het haar geken en sy het oor die jare sorgeloos deur die strate gewandel. Sy was almal se kind. Sy het die mooiste hart gehad en sou enigiets vir haar medemens doen. Nicky was disleksies, maar sy het ʼn goeie begrip van die wêreld om haar gehad. Ongelukkig is daar dikwels van haar misbruik gemaak en haar vriendelikheid is as vanselfsprekend aanvaar.

“Sy het nie verdien wat met haar gebeur het nie.”

Hattingh en haar gesin se lewe het handomkeer verander sedert Nicky se dood.

“Ons lewe nie meer nie. Ek mis haar. Ek mis dit om by haar te sit sodat sy my van haar dag kan vertel. Ek mis dit om te hoor hoe sy ‘Mamma’ roep. Die huis is so stil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Die polisie is onbekwaam om enige ondersoek te doen.Hulle het nie enige wil om ons mense te help nie.Dis hulle werk is maar net daar vir n salaris.

Di ·

Daar is wel polisielede wat nog ‘n passie het vir hulle werk maar ongelukkig net ‘n handtjievol. Die meerderheid wat aangestel is, is te sleg om te werk, het kriminele rekords en lewe op “bribes” wat deur wetsgehoorsame burgers betaal word. Hoop van harte dat hierdie kriminele gevang word en opeindig in die tronk waar hulle hoort. Sterkte aan hierdie ma en haar gesin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.