Ma, kinders baklei verwoed teen plaasaanvallers

Charne Pedersen-Horn en haar kinders (Foto: Verskaf)

’n Ma en haar drie kinders het dapper terugbaklei toe drie mans hulle Saterdag op hul plaas in Gonubie in Oos-Londen oorval het.

Charne Pedersen-Horn (39) vertel sy wou die middag omstreeks 14:00 haar drie kinders, ’n tweelingseun en -dogter (8) en tienjarige dogter, neem om roomys te gaan koop. Haar 14-jarige seun het die dag by sy biologiese pa gekuier en haar man, Mike Pedersen-Horn, het die middag fietsgery.

“Terwyl ek geskarrel het om die kinders buitekant bymekaar te kry om in die kar te klim, het ek ons erf se elektriese hek oopgedruk. Ek het in die verte drie mans gesien wat na ons toe aangeloop kom,” vertel Pedersen-Horn.

“Ek het aanvanklik gedink dit is een van ons plaaswerkers wat saam met klante is wat wil kool koop. Ons kry gereeld sulke klante. Toe hulle naderkom, het ek egter gesien dat dit nie een van ons plaaswerkers is nie. Hulle het in die erf ingeloop en ons oorval.”

Volgens Pedersen-Horn was een van die mans met ’n vuurwapen gewapen, terwyl die ander twee messe by hulle gehad het.

“Hulle het my geslaan, rondgestamp en my geskop dat ek op die grond val. Een van die mans wou my met die mes steek, maar my seuntjie het op sy rug gespring om hom te keer.”

Pedersen-Horn vertel die mans het hulle daarna in die huis probeer dwing.

“Ons het verbete daarteen baklei, want ek het geweet as ons eers in die huis is, sal ons dalk nie kan uitkom nie.

Mike en Charne Pedersen-Horn (Foto: Verskaf)

“My tienjarige dogter het die een man só hard gestamp dat hy byna sy balans verloor het.”

Pedersen-Horn het vir die mans gesê daar is ’n kluis vol geld in die kantoor. Die kantoor is buitekant in die motorhuis geleë. Een van die mans is saam met haar in die kantoor in, terwyl ’n ander een in die huis gegaan het. Die derde man het buitekant gestaan en “toesig” hou. Hy het af en toe ’n draai in die kantoor gemaak.

“Hy het my met sy vuurwapen in die gesig geslaan.”

Voor hulle by die kantoor ingegaan het, het Pedersen-Horn vir die tweeling gesê om te hardloop en haar skoonouers – wat ’n paar meter van die plaashuis bly – te roep. Haar ander dogter het by haar gebly.

Hulle was vir ’n hele ruk lank in die kantoor.

“Terwyl ons in die kantoor was, het ek onthou daar is ’n tweede deur na buite. Die man het by die ander deur gestaan toe ek en my dogter vinnig by die tweede deur uitgeglip het. Ons het na my skoonouers se huis gehardloop.”

Die mans het daarna in Pedersen-Horn se wit Prado van die plaas gevlug.

Op pad na haar skoonouers se huis het Pedersen-Horn die plaasbestuurder, Ninky Dyaphi, langs die pad gekry. Hy het ten tyde van die aanval fietsgery.

Dyaphi het in sy motor gespring en die mans probeer agternasit. Hy het die Prado sowat 3 km daarvandaan verlate op die grondpad gevind. Die mans het vermoedelik deur die bosse na ’n nabygeleë nedersetting gevlug.

Die verdagtes is nog nie vasgetrek nie.

Skootrekenaars, selfone en Pedersen-Horn se handsak is gesteel.

Pedersen-Horn sê sy is dankbaar dat sy en haar kinders met slegs ’n paar skrape weggestap het.

“Dit kon soveel erger uitgedraai het. In daardie oomblik toe die mans ons oorval het, het dit so onwerklik gevoel.

“My kinders was baie dapper en het koelkop gebly. Hulle sê hulle besef nou dat Jesus werklik bestaan, want Hy het ons daardie dag gehelp.”

Pedersen-Horn sê sy en die kinders is erg getraumatiseerd en ontvang tans berading.

Sy sê dit is die heel eerste keer dat só iets met hulle gebeur. Haar man woon al 43 jaar op die plaas.

“’n Mens dink só iets sal nooit met jou gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Elize ·

Ons kan nie bekostig om nie ten alle tye op ons hoede te wees nie. Dis geen normale manier om te lewe nie maar dit is ter wille van oorlewing! Baie bly julle is ongeskonde.

Misky ·

As ek vreemde mans in my jaart sien instap, het ek lankal in my kar al geklim en gery… bo-oor hulle as dit moet. Dankbaar julle is veilig en ongedeerd.

Tino ·

Maak met daai nedersetting soos hulle in Chatsworth gemaak het en gaan kry die goed terug Bheki

Jannie van Niekerk ·

As mens iemand naby jou plek sien wat vreemd is, veral as hulle te voet is,, moet hulle NIE vertrou nie. Jy GAAN teëspoed kry. Ek laat GEEN persoon wat ek nie persoonlik ken op my erf of in my huis toe nie. En as ek daaroor rassisties genoem wrod, dan is nou maar tot daarnatoe.

marisa ·

In Suid Afrika moet ons dankie sê as ons lewendig daaruit kom – hoe siek is dit nie?

Ian ·

Wat is die les? Bewapen jouself en leer hoe om dit te gebruik. Niemand wat na jou plot toe loop kan vertrou word nie.

Hennie ·

Yip, meer paraatheid is nodig as jy veral n vrou en alleen is….

Flower Girl ·

So bly dat julle ohk is.. Dankie Jesus.. Dit kon so anders gewees het.. Hoekom moet mense dit aanmekaar doen.. Ons kan so lekker almal in vrede en liefde saam leef..

Samuel ·

Dit is nie lekker om so in vrees te lewe nie. Geen wonder daar is SA’NERS in Australië wat ‘n nagwaak vir ons gehou het nie. Wanneer sal die regering ernstig besin oor plaas aanvalle?

KhoiKhoi ·

Wil nie die indruk skep dat ek nie plaasmoorde vreoordee nie maar wanneer gaan hierdie regering MISDAAD hok slaan.
Letterlik duisende gaan dood aan bende geweld, moord, verkragting!
Hulle sien ALMAL as blote statistieke!
Maar as jy nie eers 2500 soldate in ‘n dag kan ontplooi nie???.

Kathleen ·

Ons is almal bly julle is redelik ongeskonde , gebruik volgende keer jou sleutel , jou handpalm en knie as wapens , leer om dit te gebruik vir wanneer jy dalk weer so weerloos voor hulle te staan kom , hy sal dit nie weer waag om ‘n weerlose vrou aan te val nie

KhoiKhoi ·

Kathleen, kom ons bid liewere die Hemelse Vader dat sy en haar kinders NOOIT weer so iets beleef nie

Anoniem ·

God se beskerming en genade was groot. Baie dankbaar dat jul vielig en ongedeerd is.

Hennie J ·

Uit die berig maak ek die afleiding dat die mense onverskillig was en dank ek die HEER dat hulle ongedeerd is. Asseblief, die tipe vyand wat ons mee te doen het sal slegs op maklike prooi toeslaan. Wees voorbereid !!!!!!

Jack ·

Dit kon nog n paar lyke gewees het as die lafaards nie so onnosel was nie en dankie tog daarvoor. Is ons te gemaklik oor die aanvalle of sal dit nie met ons gebeur nie. Die mense het geen benul van sekuriteit nie en vertrou eenvoudig onbekendes wat op hul werf rondloop terwyl die voorman en man fietsry. Asb julle bly in die oos kaap waar die misdaad beslis baie hoog is. Moenie deel van die moordsyfer word nie.

Danie ·

“’n Mens dink só iets sal nooit met jou gebeur nie.”

En dit dames en here is hoekom hierdie aanvalle nooit sal ophou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.