Ma oor oorlede seun se verjaarsdag: ‘Hy sou ʼn tiener word’

Cyle Welgemoed en sy beste vriend, Janco. Foto: Verskaf

“Hy was altyd op en wakker en aan die gang. Besig. Hy het altyd iets gehad om te doen,” vertel Lynette Welgemoed.

Sy lag hartseer.

“Hy het ʼn besige en vrolike lewe gelei.”

Welgemoed se opgeruimde seun, Cyle, sou volgende week 13 jaar oud word. “Hy sou ʼn tiener word. Dit sal die eerste keer wees dat ons sy verjaardag vier sonder hom,” vertel sy ma.

Cyle het in November verlede jaar in ʼn motorfietsongeluk op sy gesin se tuisdorp, Despatch in die Oos-Kaap, gesterf.

Maroela Media het vroeër berig Cyle en sy vriend Janco het die dag van sy dood oudergewoonte in die bos naby sy ouerhuis gaan motorfiets ry. Hy het pas ’n nuwe motorfiets gekry en die twee boesemvriende het ’n draai gaan ry, teruggegaan huis toe om te eet en toe weer in die pad geval.

Welgemoed het kort daarna ’n harde slag gehoor, waarna die maat uit die bos gery gekom het.

“Tannie, kom help! Cyle het deur ʼn muur gery,” was sy woorde.

Die seuns het in Azalia-park in die dorp rondgerits toe Cyle se motorfiets skielik versnel en deur die muur gebars het. ’n Nadoodse ondersoek het later gewys hy is op slag dood nadat hy sy nek gebreek het.

Dit is by dié park waar die gesin op Cyle se verjaardag op 4 Julie gaan bymekaarkom om saam met talle van hulle getroue steunpilare, die jong seun te onthou. Ander inwoners is welkom om van 18:30 (vir 19:00) daar by hulle aan te sluit.

“Al is hy nie meer by ons nie, kan ons nog steeds sy 13de verjaardag vier,” het Welgemoed aan Maroela Media gesê.

Talle mense sal op dié spesiale dag met motorfietse by die park bymekaarkom, omdat motorfietse een van Cyle se groot liefdes was.

Daar sal ook ballonne, kerse en já, ʼn koek wees.

“Hy sou koek wou gehad het,” verduidelik sy ma.

Cyle se ma, pa en jonger sussie hoop dat wanneer hulle eendag terugkyk, dié verjaardagviering ʼn mate van vertroosting sal bring.

“Sy verjaarsdag gaan ʼn dag van trane, maar ook vreugde wees,” sê Welgemoed.

Hoewel Welgemoed gesels oor die viering van haar kind se lewe, is dit duidelik dat die laaste sewe maande sy tol op die gesin geëis het.

“Om eerlik te wees, dit voel nog nie werklik nie. Dit voel of hy net met vakansie is en of hy gaan terugkom. Wanneer die werklikheid jou wél tref, gaan dit nie goed nie. ʼn Ouer kan dit nie hanteer nie. Die een oomblik cope jy en die ander oomblik nie.

“Die tyd vlieg.

“Deesdae staan ek soggens op en ek maak reg vir net een kind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Lizelda ·

Ek het nou trane in my oe en n baie groot knop in my keel gekry md lees vd artikel. Ek kan nie die ouers se pyn begin verstaan nie maar weet net Cyle sal daar wees om saam met julle sy verjaardag te vier. n veertjie ewe skielik wat deur die lug waai of n vlinder vanuit nerens… weet net dis Cyle se manier om te wys hy is daar. xxxx

Cherika ·

Hannelie rerig en jy dink dit is n grap jou kommetaar is onvanpas sies

Iens ·

Jy het verseker n kliphart in jou binneste Hannelie. Lol maar by jou eie huis en los daardie gesin uit wat vir ewig en altyd na hul kind sal verlang.

Adel ·

Ai mamma, ñ mens kan jou glad nie indink hoe jy voel as jy nie self daardeur is nie, maar ek as self ñ mamma wil jou ñ stywe drukkie gee en sê ek dink aan jou met baie liefde en deernis en bid dat die tyd dit meer draaglik sal maak. Weet dat dit nooit die verlange en seer sal heelmaak nie. Bid dat Jesus jou styf vas hou en vertroos. Sterkte ook met julle dag daar in die park en dat dit julle almal goed sal doen om julle pragtige seun se dag te gedenk.

Liefde groete van een mamma na ñ ander mamma……….

Jason ·

Baie hartseer maar tog wonder mens hoekom ‘n ouer so ‘n jong kind toelaat om met so ‘n gevaarlike ‘speelding’ te speel en selfs aan te moedig deur vir hom ‘n motorfiets op sou ‘n jong ouderdom te koop? Dit is mos moeilikheid soek, ‘n motorfiets staan nie verniet bekend as ‘n doodskis op wiele nie.

Ann ·

Jason, gaan lees asseblief die berig oor wat presies gebeur het vóór jy oordeel.

Adoons ·

My hart bloei vir die ouers en geliefdes wat agterbly. Maar ongelukkig is dit nou maar die risiko van motorfietse. My kinders was smoorkwaad vir my in hulle tienerjare maar ek het motorfietse, bromponies verbied. Met Genade het hulle grootgeword en vandag verstaan hulle waarom.

Antionette ·

Jason, ek is self n mamma van n seuntjie dis wat seuns doen. Ja as n ma is jy altyd bekommerd maar n seun kan jy tog nie keer en n pop in die hand stop nie. Selfs met n gewone fiets kan jou kind dood verongeluk. As n ma van n seuntjie kan ek net vir jou se Jason, jy kan nooit jou kind van alles beskerm nie al wil jy ook die enigste manier wat jy dit sal kan doen is as jy jou kind in die huis toesluit veral n seun. My innige simpatie aan hierdie ouers xxx

Matewis ·

Dit is tragies en die ouers het baie seer, dit sien ek raak. Ek stem ook egter saam met Jason. 13 jaar oud met ‘n motorfiets? Volgens wet mag kinders eers op 16 met ‘n lisensie motorfiets ry… Selfs dan is die sterftes en ongelukkige baie. Motorfietse, quad bike ingesluit, is nie speelgoed nie. Ek hoop hierdie tragedie kan help om ander te voorkom. Baie sterkte aan die familie en vriende van hierdie pragtige seun.

Guve ·

Sterkte aan di ouers, Sussa en families en vriende, dis so n groot seer, ek weet, was al 2 keer daar, dink aan julle.

Tree-hugger ·

Dis tragies, dink aan die gesin in hierdie tyd van hartseer…
*Moet asb nie die ballonne in die wolke opstuur nie… Dink aan die diere en waar daardie plastiek gaan opeindig! *

GM ·

Alhoewel ek vreeslik baie simpatie het, het ek dieselfde gewonder as Jason hier bo.
Ann, jou kommentaar maak nie vir my sin nie, want die vraagstuk het juis ontstaan omdat mense die berig gelees het.

Ek besef die meeste ouers wil net die beste vir hul kinders hê en hul aanmoedig om hul stokperdjies te beoefen, maar ek sou nie so jong kind met ‘n motorfiets kon vertrou nie. Ek het eenkeer ‘n jong kind teen palisades sien vasvlieg, kop eerste, nadat hy beheer oor sy quadbike verloor het. Dis vreeslik om te aanskou.

Rika ·

Stem saam Jason 13 jaar is te jonk ek het ook motor fiets gery dis nie vir almal nie maak nie saak hoe oud jy is nie. Dink aan julle as ouers en bid vir julle. Mag die Vader julle krag gee om aan te gaan.

Simpatie ·

So waar Jason. Ek het nogal gewonder hoe maak die berig die nuus? Verskoon vir Anne. Sy ken oënskynlik nie reëls betreffende motorfietse nie.

Susan ·

Sterkte aan die Welgemoed gesin. Moenie julle aan al die bogenoemde kritiek steur nie, van die mense sal nooit verstaan nie.
As jy nie in hul skoene staan nie, sal jy nie verstaan nie ! Ons betreur saam julle die tragedie, ons loop ook dieselfde pad. Vir ons is dit al 2 jaar. Vier jou kind se lewe, huil wanneer jy so voel. Een dag op ‘n slag …. Die word nooit beter nie, die verlange raak net erger. Soms voel dit nog unreal.

It is ok to be not ok…. Ons sal wel ons kinders weer sien. Sterkte vir julle

Ander Anne ·

Ek was ‘n kranige bergfietsryer. Ek was in std 6 en so oud soos Cyle toe ek in ‘n aaklige ongeluk was. My ouers het my in my stokperdjie ondersteun. Ek kon ook dood gewees het. Deur genade van Bo was ek erg beseer, maar het ek oorleef. Daar’s geen rede om sy ouers te veroordeel nie. Mense sou sekerlik my ouers bygestaan ipv veroordeel het as ek iets erger oorgekom het en dít omdat ek op ‘n fiets was. Ongevoeligheid is onnodig.

Cheryl ·

Ai dit is so hartseer! Geniet die viering van sy lewe en soos Lizelda hierbo genoem het sal hy daar wees om dit saam met julle te vier – baie sterkte vorentoe, ek weet dit is nie ‘n maklike pad nie.

Estelle ·

Verskoon asb almal wat geen idee het hoe dit voel om ‘n kind te verloor nie. Ons vier ook net ons seun se verjaardag: maw sy teenwoordigheid in ons lewens, al is hy weg. Ek bid vir julle.

Wielspore ·

Dit wil voorkom of heelwat lesers nie op ‘n jong ouderdom blootstelling aan motorfietse en gehad het. Ons het op die platteland gewoon en op ouderdom 14 het ek my ouers se motor in die erf omgedraai sodat hulle gerieflik kon uitry. Dit is dan ook so dat meer kinders op ‘n jong ouderdom sterf aan onatuurlike oorsake agv van die waaghalsige leefstyl as tiener. Sterkte aan die ouers en onthou, julle seun het gesterf terwyl hy besig was om iets te doen waarvan hy hou.

Marinda Heckroodt ·

Mense met negatiewe kommentaar! Dit is so onnodig. Dink daaraan hoe seer julle woorde maak. Hier is ‘n mamma en pappa wie se lewens nooit weer dieselfde gaan wees nie. Dis nodig om op te bou. Nie met stokke te slaan nie. Aan die mamma en pappa. Hou moed, julle sal weer beter voel. Ek is so jammer vir julle seer.

SPIKKELS ·

Sterkte aan die familie. Ken ook die pyn. Al die eerstes. Nou sy eerste verjaardag vandat hy van jul weg geneem is. Herdenk sy verjaarsdag soos jul goed dink. Ons doen dit al vir 11jaar lank wat ons nog elke jaar my seun se verjaarsdag met cupcakes vier al is hy nie meer hier met ons nie. Liefde en vrde vir julle

Heckroodt ·

Wat gebeur het, kan nie uitgewis word nie.
Moenie klippe gooi nie. Almal maak foutiewe keuses, een of ander tyd.

Toontjie ·

Dis n tragedie. En moeilik om te verwerk veral as n kind sterf. Ek glo die Hemelse Vader sal die ouers vertroos met baie liefde en genade om hul gebroke harte te heel. My innige simpatie aan hulle en die familie. ????????
Ek dink diegene wat uitwys dat n kind onder 16 nie n motorfiets mag ry nie, ander ouers stof tot nadenke gee.

Toontjie ·

PS Jammer, al die vraagtekens ‘???’ ens. is n fout, ignoreer asb. Dit was emoticon met biddende hande.

Hannelie ·

Ag tog Cerike en lens. Die seun het n vreugdevolle en besige lewe gehad. Hoe anders sou sy ouers dan voortgaan om sy verjaarsdag te vier en hom onthou soos hy was, en waarvan hy sou hou, balonne, kerse en ja n koek. Vreugdevol Cerike en Lens!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.