Ma sterf voor kinders in transitoroof

Argieffoto.

’n Ma is Dinsdagoggend doodgeskiet toe sy en haar twee kinders in die kruisvuur van transitorowers naby Bekkersdal in Gauteng beland het.

Nog ’n persoon is gedurende die transitorooftog doodgeskiet terwyl verskeie ander gewond is.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê ’n geldwa is omstreeks 09:15 in Panyapanyastraat deur ’n motor van die pad af gedwing waarna ’n groep verdagtes skote op die geldwa afgevuur het.

Die veiligheidswagte van die geldwa is gevolglik uit die voertuig gedwing voordat die geldwa oopgeblaas is en die verdagtes met ’n onbekende bedrag geld in twee wegkommotors op die vlug geslaan het.

’n Man (59) wat die geldwa in ’n ander motor begelei het, is in die voorval doodgeskiet terwyl die bestuurder van die geldwa en twee ander veiligheidswagte gewond is.

’n Ma wat saam met haar twee kinders in hul motor op die toneel was, is in die kruisvuur doodgeskiet. Die kinders het ligte beserings opgedoen toe hul ma beheer oor die voertuig verloor het en is na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die verdagtes het ook in die vlugtog verby drie verkeersbeamptes gery wat langs die pad gestaan ​​het. Die verdagtes het skote op die beamptes afgevuur en twee van hulle is gewond. Die beamptes is ook na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die verdagtes is in dié stadium steeds soek.

Die polisie doen ’n beroep op mense om enige inligting rakende die voorval by Stop Misdaad, 086 00 10111, aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Goeie genade wat nog mense? Hierdie aanvalle gaan nie op hou nie dit raak erger. Jy kan nie eers ry met jou kind nie. Ai, nog onnodige aanvalle en dit vir geld. Wes Rand is nie speel plek nie glo my. Ons bedank die ANC cartel vir die gemors!

Dup ·

Die term Gangster Paradise is beslis van toepassing op SA.Gewelddadige en wrede voorvalle vind elke dag plaas en misdaad is deel van ons samelewing.Gaan dit ooit beter raak? Ek dink nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.