Ma vas oor baba in vlak graf

(Foto: pixabay)

ʼn Ma van Limpopo is agter tralies nadat sy glo haar tien maande oue babadogtertjie vermoor en in ʼn vlak graf begrawe het.

Die 29-jarige vrou, van Giyani, is Saterdag by haar huis weg om by haar kêrel te gaan kuier. Huurders op die perseel wat sy besit, het haar uitgevra oor die baba nadat die kind glo skielik spoorloos was, sê kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Hulle het agterdogtig geraak en Maandag in die erf begin rondsoek, waarna hulle op ʼn vlak graf afgekom het.

“Inwoners het by die huis saamgedrom terwyl die vrou weg was en het die polisie ontbied. Hulle het dadelik die leidrade opgevolg en die vrou nagespoor.”

Polisiebeamptes het haar na die huis geneem, waar sy die vlak graf uitgewys het waar sy haar baba, na bewering ʼn gestremde dogtertjie, uitgewys het.

“Sy het aangevoer haar dogter is ná ʼn siekte dood en sy het besluit om haar alleen te begrawe omdat sy nie ʼn geboortesertifikaat gehad het nie. Die kind se liggaam is opgegrawe en die verdagte in hegtenis geneem,” sê Ledwaba.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die hoofverdagte was juis veronderstel om die kind te beskerm.

ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die kind se dood bepaal.

Die vrou verskyn Donderdag in die Giyani-landdroshof op ʼn aanklag van moord en regsverydeling. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Tragies dat sekeres so min voel vir hulle eie kinders! More kry sy net ‘n ander een

Miena ·

Red n nasie!!! dis mos maklik om kinders te maak en te kry maar nie te versorg nie.
Nee wat ek het nie woorde nie.

Papsak ·

Sulke mense moet glad nie eers dink aan kindertjies nie regtig is hartseer !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.