Madonsela gedagvaar om voor komitee te verskyn

Prof. Thuli Madonsela (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Prof. Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer (OB), gaan gedagvaar word om voor die parlement se artikel 194-komitee wat gelas is met die proses oor die moontlike verwydering van haar opvolger, te getuig.

Madonsela het in ʼn brief die versoek dat sy as getuie voor die komitee moet verskyn, van die hand gewys.

Qubudile Dyantyi, voorsitter van die komitee, het gesê hul standpunt is egter steeds dat Madonsela waarde tot die proses kan toevoeg en dat daar nou met die proses begin sal word om haar te dagvaar om voor die komitee te verskyn.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, huidige OB, het Madonsela in November verlede jaar genader om haar bystand aan die komitee te versoek.

“Volgens die OB se regspan het hulle geen terugvoer van Madonsela ontvang nie en het die komitee toe besluit om toe te gee tot Mkhwebane se versoek om Madonsela te dagvaar.”

Die komitee het Woensdag die brief bespreek waarin Madonsela haar redes aanvoer hoekom sy die versoek om voor die komitee te verskyn, van die hand gewys het.

Luidens die brief sien Madonsela nie die rasionele verband in tussen die meerderheid kwessies wat die OB aan haar wil stel en die artikel 194-komitee se ondersoek nie. Madonsela voer aan dat die inligting wat gesoek word, by die OB as instelling berus.

“Aangesien ek die instelling meer as ses jaar gelede verlaat het, is dit die instelling wat die beste geskik is om te reageer op vrae oor sy verhouding met staatsorgane in ooreenstemming met sy grondwetlike posisie as  onafhanklike grondwetlike instelling wat ingestel is om ander staatsorgane aanspreeklik te hou, waaronder die Staatsveiligheidsagentskap,” voer Madonsela in die brief aan.

Sy het aangedui dat sy geen rekords of e-posse aan die einde van haar ampstermyn saamgeneem het nie.

Die komitee sal sy werk op 13 Februarie hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.