Malaria: Reisigers gemaan, duisende gevalle al vanjaar aangemeld

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Reisigers word gewaarsku om die nodige voorkomingsmaatreëls te tref wanneer hulle na hoërisikogebiede en gebiede waar malaria inheems is, reis.

Volgens die departement van gesondheid is daar tussen Januarie en Oktober vanjaar reeds meer as 7 400 malariagevalle in Suid-Afrika aangemeld, met minstens 66 sterftes.

Die somerseisoen is die begin van Suid-Afrika se malariaperiode as gevolg van hoër temperature en verhoogde reënval in malaria-oordraggebiede.

Volgens die departement het slegs 17% van malariagevalle in die land self ontstaan en is die res ingebring deur mense wat van die buiteland af hierheen gereis het.

Enigiemand wat malaria-simptome, waaronder hoofpyn, koors, kouekoors, spier- en gewrigspyn, ervaar, word versoek om so gou as moontlik mediese behandeling te verkry. Malaria is ’n lewensgevaarlike, maar voorkombare en geneesbare siekte.

Die departement het gesê sy reaksieplan teen malaria is verskerp in hoërisiko-provinsies soos KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dit sluit onder meer bewusmakingsveldtogte en gif wat gespuit word, in.

Swanger vroue en kinders jonger as vyf jaar word aangeraai om malariagebiede te vermy, tensy bykomende voorsorgmaatreëls getref word.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het gesê diegene wat malariagebiede besoek, moet dit oorweeg om voorkomende middels te neem en pogings aanwend om kontak met muskiete te verminder deur buitelugaktiwiteite na donker te beperk, die vel te bedek, muskietafweermiddels te gebruik, te verseker dat muskietskerms op vensters toe is en bednette en waaiers te gebruik.

Alle reisigers wat van malariagebiede terugkeer, moet onmiddellik mediese advies kry indien hulle griepagtige simptome ervaar tot drie weke na hul besoek.

“Besondere sorg moet met kinders geneem word, aangesien simptome baie nie-spesifiek is (koors, verlies aan eetlus en braking). Malaria kan vinnig vorder tot ʼn ernstige siekte, dikwels met ernstige gevolge; vroeë diagnose en behandeling word sterk aanbeveel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Dit kan toegeskryf word aan die regering se swak dienslewering. Ek onthou nog goed hoe elke voertuig se onderstel gespuit is vir malaria bekamping en mense deur voetbaddens moes loop by grensposte vir bek en klouseer voorkoming. Dis geen wonder dat al die pestilensies ons oorval nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.