Malema-haatspraak: MRK-hofsaak begin Maandag

Julius Malema spreek die skare toe tydens ‘n vorige byeenkoms (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se saak teen Julius Malema, EFF-leier, rakende sy onttrekking van en verskoning vir sekere uitsprake wat neerkom op haatspraak, begin Maandag in die Gelykheidshof in die Wes-Kaap.

Dié saak vloei voort uit klagtes wat AfriForum en duisende van sy lede in Oktober 2022 by die MRK ingedien het na aanleiding van Malema se uitlatings tydens die EFF se provinsiale vergadering in die Wes-Kaap.

Malema het onder meer by dié geleentheid, wat op 16 Oktober 2022 plaasgevind het, gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van die rewolusionêre daad.”

Die MRK het intussen in November 2022 bevind dat Malema en die EFF se uitlatings wel neerkom op haatspraak en aanhitsing tot geweld.

Die MRK het geëis dat Malema binne tien dae sy uitlatings moet terugtrek en om verskoning moet vra. Malema het egter geweier. Dit het die MRK genoop om hom tot die Gelykheidshof te wend om ’n tussentydse interdik te bekom. AfriForum sal dié hofverrigtinge bywoon.

“Die MRK moet konsekwent optree teen politici wat geweld aanhits. Hierdie saak is ’n tree in die regte rigting,” sê Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.