Man aangekeer wat glo Vrystaat-gastehuise bedrieg

ʼn 39-jarige man wat gastehuise in verskillende dorpe in die Vrystaat bedrieg het, is deur die Welkom-blitspatrollie in hegtenis geneem.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is in hegtenis geneem toe inligting in die media versprei is om die man op te spoor.

Ao Maria de Wet het inligting ontvang en beamptes van die blitspatrollie is versoek om ondersoek in te stel by ʼn gastehuis in Kokstraat, St Helena in Welkom. “Die man is daar aangetref en in hegtenis geneem. Toe sy bagasie deursoek is, het beamptes op twee messe, ʼn gram metamfetamien en ʼn gram dagga afgekom. ʼn Saak van die besit van dwelmmiddels is ook aanhangig gemaak,” het Mbambo bygevoeg.

Die man is gesoek in verband met sake van diefstal wat in Odendaalsrus aanhangig gemaak is, en ʼn klag van diefstal en bedrog by Harrismith- en Parkweg-polisiestasie.

Die man sal Maandag weer in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn. “Ander polisiestasies sal daarna ook sake teen hom aanhangig maak vir diefstal en bedrog by ander gastehuise.”

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het vroeër ʼn waarskuwing aan gastehuis-eienaars gestuur oor ene Riaan Botes (39) wat by ʼn gastehuis sou inboek en ʼn paar dae later sou verdwyn sonder om te betaal.

“Sy modus operandi is dat hy sou aanvoer dat hy by ʼn maatskappy in Namibië werk, maar dat sy motor onklaar geraak het en dat hy iewers moet bly tot sy motor herstel is,” het Makhele bygevoeg. “Hy het aangevoer sy werkgewer sal vir sy verblyf betaal, maar dan verdwyn hy voor enige betaling ontvang is.”

Botes het na bewering telkens ook met die sleutels en afstandbeheerder vir die hek verdwyn. “Hy het onlangs ook ʼn televisiestel gesteel uit ʼn kamer in Odendaalsrus waar hy gebly het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.