Man dood, makker vas ná hoewe-aanval

Foto: ER24

Twee aanvallers het hul rieme lelik styfgeloop toe hulle ʼn ouer egpaar op ʼn hoewe by Bloemspruit buite Bloemfontein aangeval het.

Die twee verdagtes het Saterdagaand die veiligheidshek en deur van die huis op die hoewe in die Shannon-omgewing afgebreek. ʼn Alarm het afgegaan, maar die verdagtes het voortgegaan om die egpaar, glo 70 en 80 jaar oud, aan te rand en vas te bind.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê die aanvallers was met ʼn panga en ʼn hamer gewapen.

“Twee veiligheidswagte van Senforce het op die alarm gereageer en het die twee verdagtes nog in die huis aangetref.”

Die verdagtes het die veiligheidswagte probeer aanval waarna een van die aanvallers doodgeskiet is. Hulle kon ook daarin slaag om die ander aanvaller in hegtenis te neem.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, het gesê die egpaar het ernstige kopbeserings opgedoen. “Hulle is op die toneel behandel voor hulle na die Mediclinic Bloemfontein geneem is vir verdere mediese behandeling.” Die aanvaller is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Volgens Mbambo is ʼn selfoon van die egpaar in die aanvaller wat doodgeskiet is se besit gevind. Die verdagte wat in hegtenis geneem is, sal Dinsdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen en ondersoek sake van huisroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Deloris ·

Dankie Heer hulle is veilig. Dankie vir die nodig spanne wat so vinnig gereageer het. Knap werk.

Gerrie ·

…en nou weer seker ‘n klagte van moord teen die slagoffers en hul redders? Staat sal aanvallers se onskuld probeer bewys.

Anna-Maria Flanegan ·

Hierdie aanvallers was gewapen met ‘n hamer en panga!! Ek wil meer sê hulle wou die paartjie eers martel en dan vermoor! Volgens die berig word die aanvaller aangekla van diefstal, en aanranding en met die doel om ernstig te beseer… Ek stem glad nie saam met die berig nie. Die doel was eintlik om te vermoor maar hulle is gevang voordat hulle kon klaarkry met alles!!.

Attie ·

Die “staat” sal beslis hul makkers se onskuld verdedig.

Bekommerd ·

Lewenslange tronkstraf, geen parool al wat sal werk, verwyder hulle van die samelewing!!!!!!

Miertjie ·

NIE met die doel om ernstig te beseer nie…. Met die doel om te martel en dood te maak ja!

Andre Stander ·

Pogind tot moord klagtes word slegs teen die deel van die bevolking ingestel wat ander in kiste sit, of ander in kitskos restaurant lyne n oorveeg gee.

Wanneer dit soos hier bo n panga en n hamer oor die kop is, dan net “aanranding”.

Teen hierdie tyd moet ons dit mos nou al verstaan.

P.s – Goeie Werk Senforce!!

Justice ·

Dankie Andre – “Senforce” – ek het nogal gewonder wie hierdie puik veiligheids maatskappy in Bloemfontein kan wees.

Strandloper ·

So bly hul is ok! Dank die Vader! Wat se ding doen so iets aan ou mense? Wyk satan!

Kaspaas Breekwater ·

Wens ek kon meer sulke stories lees.
Dis presies wat hierdie booswigte wat bejaardes aanval, martel en vermoor verdien. Om weggeblaas te word.
Ek het geen simpatie vir hulle nie.
Reken!

Merkur ·

Kan ´n mens nou deesdae in SA inbrekers in jou eie huis doodskiet sonder om vervolg te word of kan net veiligheidswagte daarmee reken om nie vervolg te word nie? Hoe is die werklikheid in SA vandag?
Knap gedaan aan die veiligheidswagte!

Pieter ·

Dan wil die idioot Cele nog ons wapens vat. Dit is beter om deur een verhoor te word as om deur ses gedra te word.

Jannie van Niekerk ·

En daar word ‘n plaasaanval alweer “huisroof en aanranding” genoem. Kleinhoewes is ook plase.

Willie ·

Ons gaan die Bravo’s aanvat wat ou mense teiken. Kom ons wees paraat en maak seker ons honde en alarms is reg. Hoe kom hulle in sonder dat n hond blaf. Honde in die huis is beste alarm.

PJC ·

Hierdie boosdoeners sal al hoe meer hul rieme styfloop want heelwat ouer mense is bewapen en parraat. Dit bly nog steeds ń waagstuk om te dink jy kan wag totdat die polisie of sekuriteit opdaag as jy aangeval word. Selfverdediging bly nog vir my die beter keuse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.