Man duisende rand se biltong kwyt na doeane dit gryp

(Argieffoto / Maroela Media)

’n Suid-Afrikaner is meer as R37 000 se biltong kwyt nadat doeanebeamptes by die Minneapolis Saint Paul- internasionale lughawe in die VSA beslag daarop gelê het.

Luidens ’n verklaring van die Amerikaanse departement van doeane- en grensbeskerming (CPB) het die man meer as 37 kg se biltong in sy bagasie gehad.

Met sy aankoms het die passasier die doeanebeampte in kennis gestel dat hy beesbiltong in sy bagasie wou verklaar.

CBP-landbouspesialiste het x-strale van die passasier se vyf tasse geneem wat hulle genoop het om verdere ondersoek in te stel. Die man se tasse is deursoek en 37,6 kg se bereide en gedroogde vleis is daarin gevind.

“Die passasier het die doeanebeamptes versoek om nie op die vleis [biltong] beslag te lê nie, aangesien dit meer as $2 000 (meer as R37 000) gekos het. CBP het hom ingelig dat enige gekookte of gedroogde beesvleis uit Suid-Afrika weens dieresiektes, onder meer bek-en-klouseer, beperk word en dat dit in beslag geneem en vernietig sal word.”

Volgens die CBP is die algemeenste items waarop beslaggelê word, vark- en beeswors, plante, plantmateriaal en sade vir plante en vrugte.

“Gedurende sekere vakansiedae en seisoene is daar ’n aansienlike toename in bees- en varkvleis, en ons werk nou saam met die reisende publiek om hulle in te lig oor sekere produkte wat nie die land kan binnekom nie as gevolg van dieresiektes,” sê Lauren Lewis, landbouspesialis by CBP.

LaFonda Sutton-Burke, direkteur van veldbedrywighede, sê CBP-landbouspesialiste in Minnesota (waar Minneapolis geleë is) is sterk daarop gefokus om te verhoed dat verbode items die VSA binnekom.

“Hierdie beslaglegging is ʼn bewys daarvan.”

CBP beveel aan dat mense wat plant-, dieremateriaal en ander landbou-items wil invoer, die CBP-inligtingsentrum op die CBP-webwerf raadpleeg.

“Boonop, wanneer hulle na die VSA reis, moet reisigers altyd alle items wat in die buiteland verkry is, aan CBP-beamptes verklaar om siviele of kriminele aanklagte te vermy en die risiko te verminder om plae en siektes na die VSA in te voer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Truth2bfree ·

Ja, hulle is net so streng as jy reis na Australia.
Groot verlies – doane gaan smul.

BigBucksBrits ·

Ek kan ook aan hom verskaf teen n R1000 per kilo bel my …….

trotsNAMSA ·

Hoe sê ons in Afrikaans ? “Agter os kom ook in die kraal” ! Die SA’ner weet nou van wette en regulasies. Daai biltong hoop ek word verbrand.

Nettie ·

R37 000 vir omtrent 37 kg?

Was daar stukkies diamante tussen die vet ingedruk of hoekom so duur?

Hendrik ·

Ek maak biltong vir my gesin in die VSA teen so $5/lb, nat vleis en speserye ingesluit. As jy 60% vogverlies kry jy minder as 200 gram bitong uit ‘n pond nat vleis. ‘n Kilogram biltong se produksieprys is dus $25, wat teen R18.25/$ uitwerk op R456/kg. Dan moet jou loon vir jou handewerk nog bykom as jy dit verkoop. In die VSA is R1000/kg nie buitensporig duur nie.

Eugene ·

Belaglik. Biltong kan nie siektes oordra nie aangesien dit gewoonlik in asyn gewas word en met baie sout gemaak word. Die wêreld konsentreer op al die verkeerde goed

Sêmanet ·

Dis seker ook soos ons “spietkops” wat altyd net ‘n ou koeldrankie wil hê. Selfde prinsiep. Wat gebeur met daai biltong? Kry die honde dit, of wat?

FJ ·

Vorige springbok kaptein se ouer broer en ‘n pel ry van Zambië na SA met ‘n sak biltong. By doane wil hulle dit afvat. Hy trek so 50m terug en die twee begin eet. Toe die sak leeg is meld hulle weer aan, by uiters nors doane beamptes.

Harley Davidson ·

Ek verstaan nie die probleem, die biltong was gevacume seal en kan geen gevaar inhou vir die VSA nie.

Hennie Biebouw ·

As jy nou mooi daaroor dink…sal die biltong in die vacuum bly?

Hennie Biebouw ·

As jy dom is moet jy voel. Dis desedae die maklikste ding op aarde om op die “U.S. Customs and Border Protection” webwerf te gaan, en jouself te vergewis van toelaatbare en verbode items. Dit gaan die verstand te bowe dat daar steeds mense is wat dit nie doen nie…

bolletjie blom ·

Weet nie wat so spesiaal aan daardie biltong is nie. Ons weet biltong is duur maar darem ook nou nie so duur nie. Wat ‘n grap.

Niklaas ·

Doen hy nie sy huiswerk nie ? Elke land het mos by hul lughawens voorskrifte en bepalings asook sekere wette en dis wys om vroeg seker te maak wat aanvaarbaar is al dan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.