ʼn Man van Heidelberg in Gauteng veg om sy lewe in die waakeenheid van ʼn hospitaal nadat hy Sondagaand erge brandwonde opgedoen het tydens ʼn gasontploffing in sy motorhuis.
Banie Coetzee (41) het brandwonde aan meer as 50% van sy liggaam opgedoen en sy longe en lugweg is ook beskadig. Hy word tans in ʼn geïnduseerde koma in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton versorg.
Thea Roode, Coetzee se niggie wat as woordvoerder vir die familie optree, het aan Maroela Media gesê Coetzee en sy vrou, Natasha, het Sondag geruik dat ʼn gasbottel in hul huis lek. Coetzee het die gasbottel in die motorhuis neergesit. Hy het later agtergekom hy ruik steeds gas en het die bottel toe buite gaan neersit. Hy en sy vrou is daarna albei by die huis weg.
Nadat Coetzee die aand teruggekeer het, het hy omstreeks 20:00 in die motorhuis begin om vir ʼn visvanguitstappie voor te berei. Volgens Roode was hy op pad uit die motorhuis en het hy by die deur ʼn sigaret aangesteek. Die gasdampe, wat sonder Coetzee se medewete steeds in die motorhuis was, het vlamgevat en ʼn reuse-ontploffing veroorsaak.
“Daar het niks van die motorhuis oorgebly nie. Twee blokke verder het die vensters van huise gebars. Die skroewe, bakstene en sinkplate van die motorhuis het so ver as 400 m van die toneel gelê. Dit was ʼn reuse-ontploffing,” het Roode gesê.
Sy het gesê bure het Coetzee onmiddellik te hulp gesnel en die nooddienste ontbied wat binne minute op die toneel was. Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is. Hy is Maandag na die Unie-hospitaal in Alberton oorgeplaas.
“Hy is Maandag ingeneem teater toe waar hulle sy linkerlong, wat platgeval het, herstel het. Hulle het ook sy wonde geskraap en gewas. Vandag het hulle hom weer teater toe geneem om die brandwonde te behandel,” het Roode gesê. Sy het gesê hoewel Coetzee se toestand steeds baie ernstig is, het die koors wat hy vroeër die week gehad het gebreek en is die suurstof wat hy ontvang ook ʼn bietjie verminder.
“Ons sien al soveel verbetering by hom en ons weet dit is mense se gebede wat hom so dra. God daar bo is vir ons verskriklik goed.”
Coetzee is ʼn kalibreerder van beroep en die pa van drie kinders tussen die ouderdomme van 7 en 18 jaar. Hy sal op 4 Junie sy 42ste verjaardag vier.
Roode het gesê Coetzee se mediese onkoste is tans ʼn groot bekommernis vir die familie aangesien sy mediese versekering binne die eerste dag in die waakeenheid uitgeput is. “Ons het omtrent R600 000 nodig vir die eerste 28 dae se behandeling in die hospitaal. Behalwe vir die hospitaalkostes is daar ekstra uitgawes vir dokters, narkotiseurs, fisioterapie en baie ander wat nog gedek moet word,” het sy gesê.
Sy het gesê die familie het ʼn geldinsameling begin en doen ʼn beroep op enigiemand om by te dra tot Coetzee se herstel. Vir meer inligting of om ʼn bydrae te maak kan Roode by 083 318 7697 gebel word. Donasies kan ook deur middel van PayFast gemaak word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
47 Kommentare
Ai hartseer… watter mediese fonds is hy op, of is dit net mediese versekering?
Almal soek donasies vir hospitale. Gaan staat toe. Ons werk vir ons geld. Niemand gaan my help nie. Punt.
Ek bid uit die diepte van my hart vir hierdie gesin. Sterkte.
so 6000 mense moet elkeen n R100 gee ? dit klink nie onmoontlik nie , ek sal van die geld wat ek nou nie meer by spur spandeer nie skenk
Jan ek kan nie glo wat ek in jou opmerking lees nie!! Skaam jou man!! As jy nie wil bydra of simpatie toon nie hou dan liewer jou onsensetiewe opinie vir jouself! Hierdie man het nou sy volk se ondersteuning nodig!
Sterkte aan sy geliefdes !