Man gered, drie vermeende ontvoerders aangekeer

(Foto: SAPD)

’n 71-jarige man is twee dae nadat hy in Lenasia, suid van Johannesburg, ontvoer is, gered en drie verdagtes is in hegtenis geneem.

Volgens lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die man Woensdag saam met nog ’n persoon in Vlakfontein gery toe hulle deur die insittendes van ’n wit Kia-voertuig voorgekeer is.

“Twee gewapende verdagtes het uit die voertuig gespring en die slagoffers van ’n onbekende bedrag kontant beroof. Die 71-jarige man is hierna in die verdagtes se motor gedwing.”

Die verdagtes het na die ontvoering die slagoffer se familie gekontak en ’n losprys geëis. Die polisie is van die saak in kennis gestel.

Lede van die misdaadintelligensie-eenheid het intussen inligting ontvang oor die verdagtes waarna ’n span wetstoepassingsbeamptes Vrydag op ’n huis in Lenasia-Suid toegeslaan het.

Die slagoffer is gered en drie verdagtes is in hegtenis geneem. Die motor wat glo tydens die ontvoering gebruik is, is op die toneel gevind en op beslag gelê.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Lenasia-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.