Man gevonnis wat ander van moord, verkragting beskuldig

(Foto: pixabay)

ʼn Man van Mpumalanga wat twee ander mans van die moord en verkragting van ʼn negejarige meisie beskuldig het, is dubbele lewenslange tronkstraf vir die misdade opgelê.

Philip Mailula (27) het die kind op 9 September 2017 verkrag en toe verwurg en haar liggaam in ʼn bos naby Mametlhake versteek.

Die hooggeregshof in Mbombela het gehoor Mailula is ná die moord terug na sy huis waar hy voorgegee het niks het gebeur nie. Hy het later, glo omdat hy skuldig gevoel het, aan iemand gesê dat hy gesien het hoe twee mans die kind verkrag en vermoor, het brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.

Kort daarna het die gemeenskap verneem die meisietjie se liggaam is gevind.

Mailula is ondervra oor sy weergawe van gebeure en hy het twee mans, onderskeidelik 47 en 44 jaar oud, van die gru-misdade beskuldig.

“Die twee mans is in hegtenis geneem, maar later vrygelaat nadat hulle nie met die misdade verbind kon word nie. Die gemeenskap het hulle vrylating egter glad nie goed hanteer nie en in ʼn plundertog die twee mans se huise afgebrand,” het Hlathi gesê.

Die polisie is ook daarvan beskuldig dat hulle omkoopgeld aanvaar het om die twee mans vry te laat.

Die polisie het Mailula egter weer ondervra en hy het eindelik gebieg dat hy die kind verkrag en vermoor het.

“Hy is in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat, waarna hy verdwyn het. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en hy is later opgespoor en weer in hegtenis geneem. Mailula het Maandag skuldig gepleit op die aanklagte teen hom,” het Hlathi gesê.

Regter Thando Mankge het Vrydag tydens vonnisoplegging gesê die vonnis moet as afskrikmiddel vir ander misdadigers dien, veral op ʼn tyd wat die land in ʼn fel stryd teen geslagsgebaseerde geweld betrokke is. Mankge het gesê die land kan nie waarlik vry wees tot kinders ook vry is nie.

Mailula se naam sal ook in die register vir seksoortreders opgeteken word.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het die samewerking tussen die polisie en die vervolgingsowerhede geloof en het weereens ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Ek kan skaars glo wat ek hier lees. Die moordenaar beskuldig twee mans wie toe in hegtenis geneem is. Hulle huise word afgebrand. Die ware skuldigde word toe in hegtenis geneem en op BORGTOG uitgelaat waarna hy skoonveld is en polisie weer na hom moes loop soek. Ek kan nie help om te wonder wat presies tussen die mense se ore sit wat hierdie man in die eerste plek op BORGTOG laat gaan het. Soveel tyd en geld is onnodig gebruik om hom weer agter tralies te kry. En die kind se ouer(s) sit by die huis en wag op antwoorde van die gereg.

Vriendelike Frikkie ·

Ek wonder of die gemeenskap wat so vinnig was om te oordeel nou ook net so vinnig gaan bymekaarkom om die twee onskuldiges se huise te herbou?

Nie Verbaas ·

N man verkrag en vermoor n kind, en kry borgtog. Dit verduidelik hoe onbekwaam en totaal onbevoeg ons land se regslui is. Wat as hy weer gaan verkrag en vermoor het of is dit te veel gevra om so ver te kan dink?

Niklaas ·

Ek weet van 2 onskuldige mans wat dalks vergelding stappe beplan. Ek sou hierdie Mailula graag vaderlik wou spreek. Hul was vals beskuldig en kyk wat volg toe.

FM ·

Die wetstoepassers is uiters onbekwaam.

Wil so gou moontlik die saak van die regsbank af kry ongeag die gevolge.

Daardie register is van nul en geen waarde.

Johannes Andreas ·

Ek wil graag 3 stellings maak:
1). As die aanvanklike ondersoek nie so slordig en onbeholpe was nie, dan het die ondersoek beampte die regte misdadiger arresteer, nie die 2 onskuldige partye nie;
2). Borg moes in die eerste instansie nie toegestaan gewees het nie – slapgat, traag-my-nie agtige houding van BEIDE die staatsaanklaer EN die Landros;
3). Wanneer gaan sogenaamde ‘gemeenskapsleiers’ verantwoordelik gehou word vir hul opruiende barbarisme? Hoekom kan SAPS hulle nie identifiseer en arresteer vir openbare geweldpleging nie? Sien punt 2 hierbo. Dieselfde houding as die Hof amptenary. Lewe in SA is regtig goedkoop. Die Piesang Republiek het nou wasdom bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.