Man glo lewend gebrand, verwurg oor liefdesdriehoek

(Argieffoto: pixabay)

Twee mans het Maandag vlugtig in die Kriel-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat hulle glo ʼn 35-jarige man ontvoer, lewend aan die brand gesteek en daarna verwurg het. Een van die verdagtes en die slagoffer was glo in ʼn liefdesdriehoek betrokke.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer se familie het hom Vrydag by die Kriel-polisiestasie as vermis aangemeld. Een van die verdagtes, Themba Bongani Mziyakho, het hom Sondag aan die polisie oorgegee en erken dat hy met behulp van sy medebeskuldigde, Vusi Sibande, die oorledene vermoor het.

“Mziyakho het aan die polisie erken dat hy die oorledene lewend aan die brand gesteek het uit woede oor ʼn vriendin,” sê Hlathi.

“Hy het die polisie ook geneem na die plek waar die moord plaasgevind het en daar het hulle die verkoolde oorskot van die oorledene aangetref.”

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat Mziyakho die slagoffer verlede Woensdag met Sibande se hulp ontvoer het. Hulle het hom glo na ʼn afgeleë gebied geneem waarna Mziyakho vir Sibande beveel het om die toneel te verlaat.

“Mziyakho het glo petrol oor die oorledene gegooi en hom aan die brand gesteek.”

Volgens die polisie het Mziyakho sy slagoffer ook verwurg. Toe hy besef dat die oorledene steeds asemhaal, het hy sy liggaam in ʼn nabygeleë rivier gegooi.

Mziyakho en Sibande sal na verwagting volgende Maandag weer in die hof verskyn wanneer hulle ʼn aansoek om borgtog sal indien.

“Die polisie in Mpumalanga sê dit is kommerwekkend dat mense geweld as ʼn oplossing gebruik om geskille op te los. Woede, jaloesie en hebsug lei blykbaar daartoe dat mense só gewelddadig optree. Mense word versoek om eerder mekaar te verdra en geskille op ʼn vriendskaplike manier te besleg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

LANA is ELANè ·

Om te dink dat die mense is wat so vreeslik onmenslik wreed kan wees. Ek kan maar net my kop in ongeloof skud.

Jakes ·

Die moordenaar dink seker dat omdat hy homself oorgegee het dat hy minder gestraf gaan word. Droom aan ou perd.

Misky ·

Weereens ‘n maklike saak. Mense self oorgegee aan polisie, plek gaan uitwys… so maklik soos val uit ‘n boom, maar dan vat so iets weer 4 of 5 jaar vir vonnisoplegging.

E ·

Ja en dan is die vonnis iets soos 6 jaar blah blah blah, uit om weer iemand te vermoor. dit is soos ‘n hamster op ‘n wiel. Ons regstelsel is ‘n grap.

ES ·

Misky, dit het ook nooit vir my sin gemaak nie. Ek het noudie dag Oscar se hele hofsaak gelees en het tot die besef gekom dat die regter, voor vonnisoplegging, ‘n helse klomp navorsing moet doen voordat hy tot gevolgtrekking kan kom.

Ongelukkig moet hulle prosedure volg om seker te maak dat hul die regte straf toedien. Dit is baie maklik om as buitestander te oordeel, tot jy regte studeer en dan besef dit is nie so maklik soos val uit ‘n boom nie.

ES ·

Goeie opgevoede mense doen mos nie sulke dinge nie?

En dit als vir ‘n vrou wat waarskynlik nou in elk geval niks met jou te doen sal he nie… die wereld is siek.

Boeing ·

Ek het al gesien: Van ons mede landsburgers kan in een oomblik van die grootste emosionele empatie na die wreedste dade ooorslaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.