Man red ouboet se lewe met nier

Die broers Sarel (links) en Stefan (regs) (Foto: Verskaf)

Sarel Ferreira (40) sterk tans aan in sy huis in Empangeni in KwaZulu-Natal nadat sy jonger broer, Stefan Ferreira (39), einde Januarie ’n nier aan hom geskenk het.

“My broer is my held. Hy het my lewe gered.”

Só vertel Sarel nadat die nieroorplanting sonder enige komplikasies plaasgevind het. Die operasie het sowat ses uur geduur.

Sarel het sowat drie jaar gelede vasgestel hy het slegs 9% nierfunksie. ’n Biopsie het gewys hoewel hy met twee niere gebore is, het een van die niere nooit heeltemal ontwikkel nie. Hy moes tot drie keer ’n week vier uur lank dialise ontvang.

Sarel Ferreira (Foto: Verskaf)

“Ek was geskok. Ek was nog nooit siek nie; nooit gedink so iets sal met my gebeur nie. My vrou was bang en my kinders het nie verstaan wat aangaan nie,” vertel Sarel.

Sarel se skoonma, niggie, vrou en Stefan het as potensiële skenkers vir die nieroorplanting in aanmerking gekom. Dit was egter Stefan wat besluit het om een van sy niere met sy ouboet te deel.

“Ek het bevestiging deur gebed gekry dat ek my nier moet skenk. Ek is deur baie struikelblokke, maar steeds het ek by my besluit gehou. Toe hulle die datum vir die oorplanting vasmaak, het daar opwinding, asook vrees, by my opgevlam,” vertel Stefan.

Sarel was vir ses dae in die hoësorgeenheid, waarna hy na ’n gewone saal oorgeplaas is. Hy is ná ’n week ontslaan en moet vir drie maande by die huis rus. Hy moet medikasie neem om te verhoed dat sy liggaam die nuwe nier verwerp.

Sarel sê hoewel hy baie pyn ná die operasie moes verduur, was hy dadelik bekommerd oor sy broer se welstand.

Stefan en sy vrou Janine (links) en Sarel en sy vrou Leigh-Ann (Foto: Verskaf)

“Só ’n operasie verg fisieke en emosionele voorbereiding. Ná al die trane en seer voel ek soos ’n nuwe mens. Ek is bevoorreg om ’n tweede kans op ’n normale lewe te kry. Jou hele uitkyk op die lewe verander,” sê Sarel.

Sarel is ook dankbaar vir die ongelooflike ondersteuningsnetwerk wat hy deur die hele proses gehad het. “My familie het nooit moed verloor nie. My skoonma het ’n gholfdag gereël om geld in te samel om ons mediese uitgawes te dek.”

Sarel en Stefan is baie dankbaar vir die ondersteuning van die St. Augustine-hospitaal se oorplantingseenheid. “Hulle stap die pad saam met jou. Tree vir tree. Traan vir traan,” sê Sarel. “Die mediese personeel is uiters professioneel en bied uitstekende ondersteuning,” voeg Stefan by.

Stefan sê hoewel hy dankbaar is dat hy sy broer kon help, is dit ook hartseer om te dink daar is so baie mense daarbuite wat nie die voorreg het om betyds ’n orgaan te ontvang nie. Hy moedig graag ander aan om orgaanskenkers te word. “Ek voel mense moet begin verstaan jy hoef nie te sterf om ’n orgaanskenker te kan wees nie. Waag ’n kans en gee iemand die geleentheid om ook die lewe ten volle te kan geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HunterGal ·

Baie sterkte met die herstel… Ek kan getuig dat ek 33 jaar met 1 nier oor die weg kom, pas julself mooi op!

Agter die skerms..... ·

Baie bemoedigende storie en dit vir ‘n Maandgoggend.
Stefan en sy vrou Janine (links) en Sarel en sy vrou Leigh, baie sterkte aan julle, dit wys weereens daar is nog iets soos liefde tussen familie.

lollapot ·

Wonderlike ouers moes julle 2 pragseuns groot gemaak het!
Jy is absoluut ‘n engel Stefan! Ek kan nie dink wanneer laas ek soveel wedersydse liefde raak gelees het nie . . .
Ek bid julle albei voorspoed en gesondheid toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.