Man uit kattebak in Pretoria gered

Die slagoffer is uit ‘n silwer Toyota Tazz se kattebak gered. (Foto: Tshwane se honde-eenheid)

ʼn Man is Vrydag in die vroeë oggendure uit ʼn voertuig se kattebak in East Lynne in Pretoria gered.

Die Tshwane se honde-eenheid het omstreeks 00:40 ʼn silwer Toyota Tazz voorgekeer nadat hulle die verdagte voertuig in die gebied waar hulle aan diens was, opgemerk het.

Sers. Alfred Legodi, woordvoerder van die eenheid, sê nadat beamptes hul noodligte aangeskakel het, het die verdagtes probeer vlug. Die voertuig is op die hoek van Molotoweg en Sefako Makgatho-rylaan voorgekeer.

“Die verdagtes het stilgehou en terwyl die polisie die toneel genader het, het die verdagtes probeer vlug. Dit het tot ʼn jaagtog aanleiding gegee.”

Die groep is egter sowat 800 m verder in hegtenis geneem.

“Naby Lavenderweg het die verdagtes in die aankomende verkeer ingery en beheer oor die voertuig verloor. Hulle het teen ʼn boom vasgery en uitgespring.”

Een van die verdagtes het twee skote op die polisie afgevuur en die beamptes het teruggevuur. Een verdagte is in die regterbeen gewond en die ander is in hegtenis geneem.

Een van die verdagtes het twee skote op die polisie afgevuur en die beamptes het teruggevuur. (Foto: Tshwane se honde-eenheid)

“Tydens die polisie se deursoeking van die voertuig het hulle op ʼn bebloede man in die kattebak afgekom. Die slagoffer het aan die polisie gesê dat hy in KwaMhlanga, in die Nkangala-distrik in Mpumalanga, deur die mans ontvoer is,” het Legodi gesê.

Die slagoffer en die gewonde verdagte is na die Steve Biko-hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Die mans sal na verwagting binnekort in die Pretoria-Noord-landdroshof op aanklagte van poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen – waarvan die reeksnommer afgevyl is – verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yvonne ·

Ons eens pragtige land is verrot van misdaad…Here wees ons genadig

Casper ·

Wat van ‘n klag van ontvoering en aanranding of is die man ‘n bloeier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.