Man vas ná bylmoorde op ma, vyf kinders

(Argieffoto: pixabay)

Die polisie het ʼn 32-jarige man aangekeer in verband met die grumoorde op ʼn Oos-Kaapse ma en haar vyf kinders.

Die slagoffers is in hul huis in Kwaaiman tussen Mthatha en Koffiebaai met ʼn byl doodgekap.

Die inhegtenisneming Donderdagaand in Ginsberg naby King William’s Town volg binne 24 uur ná die voorval.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiehoof, het ná die moorde opdrag gegee dat die polisie se 72 uur-aktiveringsplan in werking gestel word om na die moordenaar te soek.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die ondersoekspan het inligting ontvang wat hulle na ʼn woonstel in Ginsberg gelei het wat glo behoort aan ʼn familielid van die verdagte. Die man is daar aangekeer.

Hy het glo ná die moorde van Kwaaiman na King William’s Town gevlug. “Besonderhede oor hoe hy tot in Ginsberg gekom het, word nog ondersoek. Speurders moet die verdagte nog ondervra oor die tragiese bylmoorde op sy vrou en vyf kinders,” het Kinana gesê.

Die polisie het vroeër gesê die man is ʼn Zimbabwiër.

“Tydens sy inhegtenisneming het hy oënskynlik gereed gemaak om uit Suid-Afrika na sy geboorteland te vlug,” het Kinana gesê.

Ntshinga het die inhegtenisneming verwelkom en gesê dit getuig van die samewerking tussen vaardige speurders wie se deursettingsvermoë nou vrugte afgewerp het.

“Misdade teen vroue en kinders is ʼn topprioriteit vir die polisie. Ons gemeenskappe moet dié boodskap nie net hoor nie, maar ook ondervind in die werk wat ons doen,” het Ntshinga gesê.

Nadat hy formeel aangekla is, sal die verdagte na verwagting Maandag in die Mqanduli-landdroshof op ses aanklagte van moord verskyn.

Die ondersoek duur intussen voort.

Die polisie het ook inwoners van die gebied bedank vir hul steun aan die polisie.

Die slagoffers, ʼn 42-jarige ma en haar vyf kinders tussen ses maande en tien jaar oud, se liggame is Dinsdagaand in hul huis aangetref. Bure het die polisie ontbied nadat hulle onraad by die huis vermoed het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Androclus ·

Ja dit kom van buitelanders toelaat in SA wat reeds so deurmekaar is.

Persheks Adri ·

Mag jy vir ewig en altyd gaan sit en GEEN borg vir jou nie! Geen verdomde hart as jy mense kan op kap met ‘n byl nie jy’s siek in jou kop. Die res van my kommentaar kan ek nie plaas nie dan sit ek pffft

Agter die skerms ·

Die man moet net toegesluit word en die sleutel moet weggegooi word. Bou ‘n tronk in die middel van die see en sit hulle almal daarin.

Phillip ·

En gee hom abs borg so dat hy ook landuit kan ontsnap soos die ander van wat ons van weet

ES ·

Watse siek mens kap ‘n 6 maande oue baba op?? Afgesien van watter land jy af kom, as jy sulke dade pleeg is iets nie lekker in jou kop nie!

Chris ·

Bring asseblief terug die doodstraf. ‘n Mens wat ‘n ander se lewe neem, het geen plek op aarde nie. In die Bybelse tyd is die mense gestenig. Ek weet dis kry, maar hoe gaan ons land lvorentoe yk as daar geen voorbeeld gemaak word nie.

Kerneels ·

“Speurders moet die verdagte nog ondervra oor die tragiese bylmoorde op SY vrou en vyf kinders,”

Dit was dus die pa wat hulle doodgekap het. Verskriklik.

Mariaan ·

Skokkend verby!! Hoe hoe hoe doen mens so iets?watse angs is die kindertjies nie deur om te sien wat gebeur en wie is volgende? Ag nee…dis sommer n aaklige wereld

Nico ·

Ek wonder wie is die vaardige speurders, gee hom die doodstraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.