Man vas ná hy glo gestremde kind verkrag

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Vermeende verkragter is agter tralies nadat inwoners van die Gilead-nedersetting in Limpopo onraad vermoed en die polisie blitsig op sy spoor gesit het.

Die 12-jarige slagoffer, ʼn verstandelik gestremde kind, het glo Woensdag omstreeks 16:00 saam met haar maats in die straat gespeel, toe die vermeende verkragter haar na ʼn begraafplaas weggelok het. Die 42-jarige man het haar glo verkrag en daarna beveel om nie ʼn woord te rep nie, sê brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Die vermeende aanvaller het daarna saam met die kind na haar huis gestap. Dit het ander inwoners dadelik onrustig gemaak en hulle het die meisie se familie ingelig.

Die kind is eers na ʼn plaaslike kliniek en daarna na die George Masebe-hospitaal vir ʼn mediese ondersoek geneem. “Die dokters by die hospitaal het bevestig dat die kind verkrag is en die saak is by die Gilead-polisie aangemeld,” sê Mashaba.

“ʼn Verkragtingsaak is aanhangig gemaak en ʼn soektog na die verdagte is van stapel gestuur. Hy is omstreeks 21:00 by sy huis in die Mathale-nedersetting aangekeer.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof, het haar diepe kommer oor die verkragting van die gestremde slagoffer te kenne gegee en die spoedige inhegtenisneming verwelkom.

“Ek is vol vertroue dat geregtigheid sal seëvier en dat die oortreder, weens sy barbaarse optrede om weerlose slagoffers wat hulself nie kan verdedig nie te teiken, permanent uit die samelewing verwyder sal word.”

Die polisieondersoek duur voort en die man sal na verwagting Vrydag in die Mahwelereng-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.