Man vas vir polisieaanval in Witbank

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Frederic J Brown/AFP)

ʼn Man is Sondag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by ʼn aanval op twee polisiemanne in Witbank Vrydagaand.

Die inhegtenisneming kom minder as 24 uur vandat die lokval vir die beamptes opgestel is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes van Barberton het Sondag om 01:30 die verdagte naby die N4 vasgetrek.

“Die polisie het ʼn wit bakkie sonder ʼn registrasienommer naby die Barberton Mediclinic gewaar en vir die bestuurder aangedui om van die pad af te trek. Die bestuurder het nie gehoor gegee aan die versoek nie en aanhou ry. Die beamptes het die motor agternagesit en eindelik daarin geslaag om die motor van die pad af te trek,” sê hy.

“Die beamptes het gesien daar is passasiers in die voertuig en terwyl hulle dit genader het, het daar skote vanuit die verdagtes se voertuig gekom. Die polisie het teruggevuur, wat daartoe gelei het dat van die insittendes uit die voertuig gespring en te voet van die toneel gevlug het.”

Die beamptes het wel daarin geslaag om een van die verdagtes, ʼn 30-jarige man, by die voertuig aan te keer voordat hy ook kon vlug.

Die polisie het die voertuig deursoek en op Gautengse registrasieplate, leë magasyne en patrone in die voertuig afgekom.

Die verdagte en die bewysstukke is na die Baberton-polisiestasie geneem vir verdere ondersoek.

Volgens Mohlala word die verdagte, asook die ander passasiers in die voertuig, met die aanval verbind wat Vrydag op twee lede van Witbank se blitspatrollie geloods is.

Maroela Media het vroeër berig dat twee beamptes ʼn motoris langs die pad wou help toe nog ʼn motor by hulle gestop en skote op hulle afgevuur het. Een beampte is in die skietgeveg beseer, maar sterk aan in ʼn plaaslike hospitaal.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die beamptes wat daarin kon slaag om een van die verdagtes vas te trek geloof vir hul dapperheid.

“Dit is wel kommerwekkend dat daar skynbaar al hoe meer aanvalle op polisie in die provinsie is,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

Niemand is bang vir die polisie nie.Ai as ek terugdink hoe effektief die polisie voor 94 was.Niemand sou waag om die polisie aan te vat nie.

Marcello ·

Ek voel net jammer vir die Polisie beamptes wat nog steeds hul deel doen, maar nou onder dieselfde kam geskeer word as die “korruptes”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.