Man verdwyn onder water ná hy kind wou red

Foto4_SoulWoman_Sonsondergang-by-Swartvlei-meer.jpg

Swarvlei-meer (foto verskaf deur ‘Soul Woman’)

ʼn 46-jarige man se liggaam is Saterdag in die Swartvleimeer tussen Sedgefield en Wildernis in die Wes-Kaap gevind nadat hy onder die water verdwyn het. Hy wou glo ʼn kind red wat aan’t verdrink was.

Die man is geïdentifiseer as Siviwe Siqhela van Hlalani in Knysna.

Sers. Chris Spies, woordvoerder van die polisie, sê ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat die man onder die water gegaan het om ʼn kind, wat self onder die water was, te help. Siqhela het egter nooit weer na die oppervlak teruggekeer nie.

Garth Dominy, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se stasiebevelvoerder in Wildernis, sê die NSRI-reddingspan, polisie, ER24-nooddienste asook Knysna se brandweer- en reddingsdienste is Saterdag omstreeks 12:47 na die Swartvleimeer deur omstanders ontbied.

“Met die reddingspanne se aankoms op die toneel is vasgestel dat ʼn plaaslike man Siqhela reeds vanuit die water getrek het. Dié man en sy twee kinders het met kardiopulmonêre resussitasie (CPR) begin,” vertel Dominy.

Die omstanders se probeerslag om Siqhela by te bring, het egter misluk en hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Siqhela se liggaam is vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Volgens Spies het die polisie ook ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

Siqhela se 13-jarige dogter en haar drie neefs, onderskeidelik 13, 12 en ses jaar oud, is in die polisie se sorg geneem.

“Namens die NSRI wil ons graag ons medelye aan die oorledene se familie betuig,” sê Dominy.

“Ons wil ook die pa en sy kinders wat probeer het om die man by te bring, loof vir hul goeie werk. Vele dank ook aan die ander omstanders wat met hul voertuig by die toneel stilgehou het om te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

My hart krimp so bietjie in my bors met die lees van hierdie artikel. Ek haal my hoed af vir jou, Siqhela. Rus in vrede ou maat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.