Man vermoor eks, toe nuwe vriendin terwyl op borgtog

hof, mikrofoon, justisie

(Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

ʼn Vrystaatse man is twee lewenslange vonnisse opgelê nadat hy eers sy eks-meisie vermoor het, en toe sy nuwe vriendin terwyl hy op borgtog was.

John Kali is die afgelope week in die hooggeregshof in die Vrystaat gevonnis vir die moorde op Seipati Masangane en Malehlohonolo Moletsane. Albei vroue, ook vriendinne, het tydens hul dood by Kali (29) gewoon.

In Maart 2019 is die vroue terug na hul onderskeie huis. Seipati is egter terug na Kali se huis waar sy haar besittings sou kry – en is daar die laaste keer lewend gesien, sê Mojalefa Senokoatsane, waarnemende woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat.

Weke ná haar verdwyning, het bure van Kali gaan ondersoek instel na ʼn doodsreuk wat uit die veekraal gekom het. Hulle het die polisie ontbied en Seipati se ontbinde liggaam is ontdek.

Kali is in hegtenis geneem, van moord aangekla en toe op borgtog vrygelaat.

Terwyl hy op borgtog was, het hy en Malehlohonolo hul verhouding voortgesit en weer begin saamwoon. In hierdie tyd is Malehlohonolo egter verbied om die paartjie se huis te verlaat.

Malehlohonolo het Kali in ʼn stadium oor Masangane se moord gekonfronteer en ʼn argument het gevolg, sê Senokoatsane.

In hierdie tyd het Kali erken dat hy Masangane doodgemaak het. Malehlohonolo is kort daarna ook nie weer lewend gesien nie.

Hy het later ʼn buurman gevra om ʼn gat in sy erf te grawe. Dié het onraad vermoed oor wat soos ʼn vlak graf gelyk het waaruit ʼn onhoudbare reuk gekom het, en het die polisie weer ontbied.

Kali is weer in hegtenis geneem en van moord aangekla.

Die staatsaanklaer, adv. Dansi Mpemvane, het tydens die verhoor aan die hof gesê Kali is ʼn gevaar vir die samelewing en het twee weerlose vroue vermoor wat hom vertrou het, en in ʼn stadium selfs in ʼn romantiese verhouding met hom was.

Mpemvane het aangevoer Kali het ook geen berou getoon nie.

“[Kali] het die tweede slagoffer vermoor omdat hy baie goed geweet het dat sy teen hom sou getuig oor die moord op die eerste slagoffer,” het hy gesê.

Die staat het ter strafverswaring ook aangevoer daar is geen rede om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Delia ·

Ag wat, gee hom maar weer borg of vervroegde parool of iets, want hy het mos regte.

Danie ·

Stem saam. Die slagoffer het geen regte nie. Maar die misdadiger, wat hulle regte grof geskend het, vir hulle is daar ‘n erewag deur die bemoeisieke, wit gepleisterde grafte.

Wondermaarnet ·

Laat hom maar gaan foeitog. Hy is nog nie klaar met sy moordtog nie.

Tallies ·

Nou vra ek met trane in my oë, 1. HOEKOM is daar in die eerste plek borg toegestaan?
2. HOEKOM sal jy teruggaan na so man toe na jy weet waartoe hy in staat is?

domheks ·

Lyk vir my ons kort meer van die man se soort in SA, want die regstelsel kan nie die gemors uit die strate hou nie, hulle gee hom borg om voort te gaan met sy dade.

Ore ·

Soos ek verstaan is elkeen geregtig op borgtog. My vraag is, word borgaansoeke slegs met ‘n stempel bekragtig om die aantal sake te verminder of word daar werklik tyd spandeer om die aansoek te oorweeg. Moet / kan die landros/prokureur wat hierdie engeltjies vrylaat nie ook verantwoordelik gehou word nie?

Minnie ·

Justisie het die tweede vrou gevaal. As hy nie borgtog gekry het nie, het sy nog geleef.
Ons regstelsel is pateties, onverantwoordelik.
Bring die doodstraf terug dan is ons tronke 50% leeg. Ons as belastingbetalers sorg vir al die gemors wat die tronke volsit….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.