Man vervolg ná matriekmeisie se dood

Marilize Nortier (18). (Foto: Facebook)

ʼn Jaar ná die dood van die 18-jarige Marilize Nortier in ʼn motorongeluk buite Oudtshoorn gaan iemand nou wel vir haar dood vervolg word.

Marilize was ʼn matriekleerder aan die Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn. Haar liggaam is op 22 September verlede jaar sowat 10 km buite die dorp ontdek nadat ʼn verbyganger die motorongeluk aangemeld het. Die tiener was steeds in die passasiersitplek van die motor vasgegordel waar dit in ʼn sloot met water beland het.

Die polisie het na die ongeluk gesê die BMW waarin Marilize ʼn passasier was, het vanuit die rigting van die Kangogrotte na Oudtshoorn gery. Om ʼn draai het die bestuurder vermoedelik beheer oor die motor verloor, dit het omgeslaan en in die watersloot tot stilstand gekom.

ʼn Verbyganger het die motor omstreeks 08:00 op die betrokke Sondagoggend langs die pad gesien en die owerhede ontbied. Die bestuurder van die voertuig het op die toneel aangekom terwyl die polisie daar was. Die man is ná die ongeluk langs die pad opgelaai en was glo baie deurmekaar.

Die nadoodse ondersoek het gewys Marilize het veelvuldige beserings opgedoen en is dood weens verdrinking.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het bevestig vervolging gaan voort.

“Hy [die bestuurder] word aangekla van strafbare manslag en versuim om hulp te verleen. Dit beteken hy staan tereg op twee aanklagte,” het Ntabazalila gesê.

Morné Nortier, Marilize se pa, het gesê daar was verskeie vertragings met die saak, onder meer weens die Covid-19-pandemie en die gevolglike afsonderingstydperk, maar dat hy bly is daar is vordering. Hy is vroeër ingelig dat daar wel iemand in verband met die voorval vervolg gaan word.

“Ek is net bly dat daar nou wel iets kom [van die ondersoek]. Dit was ʼn nagmerriejaar. Dit is ʼn jaar later en ons is nou eintlik waar ons ʼn jaar gelede met die ondersoek moes wees.

“Daar was soveel frustrasie, jy dink later jy wil die reg in eie hande neem … soveel gedagtes wat deur jou kop gaan,” het Nortier gesê.

“Dit is ou wonde wat nou weer oopgekrap word. Dit is nie maklik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Dit help nie om te kla oor vertragings met die vervolging nie. Die slagoffer was mos maar net wit. Dis mos maar hoe wit mense in dié anti-wit SA behandel word.

Mariaan ·

Hoe los jy iemand net so…nee jong man! Haar lewe kon nog gered word…erg genoeg dat jy n ongeluk gemaak het..nou los jy haar net so! Sterkte vir hierdie ouers…

madels ·

Dis net te verskriklik om te dink dat die man nie vir haar gehelp het nie, maar ek moet ook sê, ek sal nie sommer die man oordeel nie want dit moes net so verskriklik vir hom gewees het en soos die berig sê hy was deurmekaar en 10/1 kon nie reguit dink toe hy uit die kar geklim het nie. Ek kan nie dink ook waardeur die man gaan nie :-(

Casper ·

Madels ja dit is nie vir my om te oordeel nie maar was hy regtig so deurmekaar dat hy nie besef het daar is ‘n passasier saam met hom in die moter nie of het iets anders die deur mekaarheid veroorsaak.Hy was nie te deurmekaar om die toneel te verlaat nie.

Casper ·

Uit die berig uit is dit duidelik dat sy na die ongeluk nog geleef het en verdrink het.Hoekom het die bestuurder die ongelukstoneel verlaat,geen hulp ontbied nie en selfs die person wat hom opgelaai het bied geen hulp aan Marlize aan nie.Die bestuurder het eers later op die toneel aangekom toe die polisie al daar was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.