Man wat kind glo gryp, het vorige veroordelings

‘n Skermgreep uit die video.

Die man wat verlede week helder oordag ʼn jong kind by ’n restaurant in Florida aan die Wes-Rand glo probeer gryp het, verskyn Vrydag weer in die landdroshof in Roodepoort.

Naseem Slamang word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot ontvoering en gewone aanranding.

Tydens Slamang se hofverskyning Donderdag het die hof gehoor dat hy drie vorige veroordelings en ʼn hangende saak van diefstal teen hom het. Daar is in Oktober 2018 ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik.

“Daar is uitvoering aan die lasbrief gegee wat beteken Slamang het weer in die hof verskyn en dié saak is ook tot Vrydag uitgestel vir die beskuldigde om regshulp te bekom,” het Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê.

Die jongste verwikkelinge beteken dat skedule 5-oortredings Slamang nou in die gesig staar. Hy sal die hof ook moet oortuig dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat word. Volgens Mjonondwane sal die staat sy borgtogaansoek teenstaan.

Daar sal Vrydag op ʼn datum besluit word waarop die beskuldigde om borgtog sal aansoek doen. Die hof sal ook besluit oor ʼn aansoek deur die media om die hofverrigtinge te verfilm.

Die dramatiese vermeende ontvoeringspoging is op video vasgelê en het ʼn opskudding op sosiale media veroorsaak.

Dishal Sooku (Foto: Verskaf)

In die video kan gesien word hoe twee vroue en ʼn dogtertjie by ʼn tafel in ʼn restaurant sit. ʼn Man storm dan nader, spring oor ʼn lae reling en kry die kind om die nek beet.

Die 38-jarige Dishal Sooku, eienaar van die restaurant waar die voorval plaasgevind het, gryp dan in om die man in bedwang te bring waarna die man later in hegtenis geneem is.

“Ek het eers gedink die man kom om ʼn selfoon of ʼn sak te steel. Ek het hoegenaamd nie gedink die man kom om die dogtertjie aan te val, leed aan te doen of om haar te ontvoer nie,” het Sooku vroeër die week aan Maroela Media vertel.

Volgens Sooku het hy in daardie oomblik slegs daarop gefokus om die kind te beskerm en niks anders nie. “Ek wou die man net beheer sodat ek die situasie kon beheer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mallie ·

Dankie aan Dishal, want was dit nie vir hom nie was daar een dogtertjie weer weg. Jy is n regte “fairy Godmother”. Mag jy geseen word vir jou optrede. Sterkte aan die mamma en die dogterjie.

Jannie van Niekerk ·

Borgtog “in belang van geregtigheid?” Dis net in die nuwe oneffektiewe Suid Afrika wat so iets sal gebeur.

Sanette ·

Dalk moes hulle hom inhegtenis geneem het in 2018 toe die lasbrief uitgereik is.

Niklaas ·

In 2018 was ‘n lasbrief uitgereik vir Slamang. Hoekom is daar dan nou sprake van borgtog? Word dit wragtig nog oorweeg ? Dit moet nie eers ter sprake kom nie. Mens kan net jou kop skud

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.