Mans gevonnis vir vrou se moord tydens hoewe-aanval

Chantel Kershaw (44) is in September 2020 vermoor (Foto: Twitter)

Twee mans wat in 2020 ʼn tuinier gehelp het om sy werkgewers op ʼn kleinhoewe in die Sundra-omgewing in Mpumalanga te beroof, en in die proses ʼn vrou vermoor het, is vandeesweek gevonnis.

Thomas Reuben Tivane (50) en Kenneth Mashego (50) het Woensdag in ʼn sitting van die hooggeregshof in die Delmas-landdroshof verskyn.

Dié twee is vroeër vanjaar skuldig bevind vir die moord op Chantel Kershaw (44). Kershaw is destyds deur die beskuldigdes verwurg terwyl sy om hulp geskree het.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê Tivane en Mashego is beide lewenslange tronkstraf opgelê vir Kershaw se moord. Tivane is nog 20 jaar opgelê vir roof, en Mashego is 15 jaar opgelê vir dieselfde misdryf.

Kershaw se tuinier, Themba Moses Masuku, was die baasbrein agter die aanval. Masuku is verlede jaar 15 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van roof met verswarende omstandighede en regsverydeling.

Masuku hou steeds vol dat hy nie kon voorsien het dat Kershaw op die dag vermoor sou word nie.

Kershaw was op 30 September 2020 besig met haar daaglikse take op die kleinhoewe en het Masuku gevra om haar te help om ʼn grassnyer op haar bakkie te laai. Dit is toe dat sy twee gewapende mans in haar tuin gewaar het.

Die mans het Masuku opdrag gegee om sy klere uit te trek voordat hulle hom vasgebind en beveel het om op die grond te gaan lê. Die twee mans het Kershaw toe oorval en haar verwurg terwyl sy om hulp probeer skree het.

Die mans het hierna die huis binnegegaan waar hulle Kershaw se ma, Grieta Spiers, met ʼn vuurwapen aangerand het. Hulle het die huiswerker vasgebind en in die badkamer toegesluit.

Tivane en Mashego het die huis geplunder en toestelle ter waarde van R10 000 gebuit.

Die twee het met Kershaw se bakkie op die vlug geslaan, maar is later in hegtenis geneem nadat hulle beheer oor die voertuig verloor het.

Dit het later aan die lig gekom dat Masuku die twee mans ingespan het om Spiers en Kershaw te oorval, vas te bind en te beroof.

Volgens Mdhluli het die ondersoekspan onverpoosd gewerk om die saak op te los en suksesvolle skuldbevindings te verseker.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnisse verwelkom en gesê dat sy hoop dat dit ʼn sterk boodskap aan alle plaas- en kleinhoewe-aanvallers stuur.

“Dit is met groot waardering wat ons die uitsonderlike en uitmuntende werk van die buurtwag erken. Hulle pogings het tot die vinnige inhegtenisneming van die beskuldigdes gelei,” sê Manamela.

“Ons bedank ook die ondersoekspan en die regsbank vir hul samewerking wat tot die skuldbevindings gelei het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.