Mans in hof vir Diepsloot-moord

Argieffoto (Foto: Guillem Sartorio, AFP)

ʼn Groep van sewe mans het Dinsdag in die Randburg-landdroshof verskyn ná die dood van ʼn man vroeër vandeesmaand in Diepsloot, Gauteng. Die slagoffer is lewend verbrand.

Die moord spruit uit protesoptrede deur inwoners wat hul misnoeë oor toenemende misdaad in hul woongebied te kenne wou gee.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê die beskuldigdes staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, ontvoering, aanranding, roof met verswarende omstandighede en afpersing.

Die groep het glo ʼn aandeel daarin gehad om Elvis Nyathi (44), ʼn Zimbabwiër, op 7 April aan te rand, aan die brand te steek en vir dood agter te laat.

Die groep verdagtes het glo voor die voorval van huis tot huis beweeg en beweer dat hulle na misdadigers soek en het glo op óf paspoorte óf geld aangedring. Die oorledene het uit sy huis gehardloop en die groep het hom na bewering agternagesit en vermoor.

“Die res van die aanklagte spruit uit ʼn beweerde daad van sogenaamde vigilantisme deur die groep Diepsloot-inwoners teen Zimbabwiese burgers,” sê Mjonondwane.

“Die groep het glo ʼn aantal Zimbabwiese burgers daarvan beskuldig dat hulle misdade in die gebied pleeg. Hulle het na bewering van die slagoffers van hul besittings beroof en geld geëis in ruil vir die vrylating van diegene wat hulle in aanhouding gehad het.”

Inwoners van Diepsloot het twee weke gelede na die plaaslike polisiestasie opgeruk met plakkate om blyke te gee van hul misnoeë. Hulle het die paaie met brandende bande en klippe versper.

Die inwoners was glo ongelukkig oor die toenemende misdaad in hul woongebied nadat talle mense die afgelope tyd in die gebied vermoor is. Talle betogings teen ongedokumenteerde migrante het die afgelope paar maande in Johannesburg opgevlam.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het dié nedersetting besoek in ʼn poging om die woedende inwoners se gemoedere te kalmeer. Net ure ná Cele se besoek is Nyathi vermoor.

Nyathi se beweerde moordenaars sal Vrydag weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

maruis ·

Roep die privaat sekuriteit in en skiet die goed uitmekaar

marius ·

Waneer die staat algeheel disfunksioneel raak , neem die wette van die oertyd oor . Dis die waarheid .

Heinrich ·

“Die moord spruit uit protesoptrede deur inwoners wat hul misnoeë oor toenemende misdaad in hul woongebied te kenne wou gee.” ‘n Groter pot nonsens het ek lanklaas gehoor! Waar sien mens kriminele wat deur kriminele optrede protesteer teen kriminele optrede?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.