Mans vas wat glo sewe op plaas moor

plaas-polisie-veld argief

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Twee mans is in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die moord op sewe mense op die plaas Lismore net buite Kestell in die Vrystaat.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die ondersoekspan het die mans, onderskeidelik 22 en 34 jaar oud, op ʼn pad net buite die Bohlokong- informele nedersetting in hegtenis geneem.

“Twee vuurwapens wat vermoedelik uit dieselfde plaashuis gesteel is, is ook teruggevind. Die moontlikheid bestaan dat een van hierdie vuurwapens gebruik is om die moorde te pleeg,” sê Makhele.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Kestell-landdroshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die span geloof dat hulle onvermoeid gewerk het om die verdagtes in hierdie gru-moord aan te keer.

Maroela Media het vroeër berig dat die eienaar van die betrokke plaas op die liggame afgekom het.

Makhele het intussen bevestig dat die ses vroue wat omgekom het, vermoedelik almal plaaswerkers, tussen die ouderdomme van 22 en 53 jaar is. Die jongman wat ook dood aangetref is, is 17 jaar oud.

“Ons verwag dat die oorledenes se naasbestaandes gedurende die dag hul volle name sal bevestig soos wat die formele identifikasie van die liggame gedoen word.”

Dit is nog onbekend wat die motief vir die moorde is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.