Mantashe beskuldig Lesotho van ‘ekonomiese sabotasie’ ná myners’ sterf

Gwede Mantashe (Foto: Courtney Africa/African News Agency/ANA)

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het Lesotho van “ekonomiese sabotasie” beskuldig en sê dat dié land hom blind hou vir onwettige mynboubedrywighede in Suid-Afrika.

Die minister se uitlatings volg nadat minstens 31 vermoedelik onwettige myners verlede maand in ʼn ventilasieskag by die Virginia-myn in Welkom omgekom het. Dié slagoffers is vermoedelik Lesotho-burgers.

Lesotho se departement van buitelandse sake en internasionale betrekkinge het die inligting in ʼn verslag aan Suid-Afrika bekend gemaak.

Die myners is dood in ʼn skag wat laas in 1990 bedryf is.

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van minerale hulpbronne is inligting oor die voorval nog min, maar die departement doen sy bes om op die beskikbare inligting te reageer, insluitend inligting dat drie liggame al deur myners uit die skag gebring is.

Inspekteurs van die departement het in samewerking met die vorige eienaars van die myn, Harmony, ʼn assessering van die situasie gedoen en vasgestel dat metaanvlakke by dié myn se ventilasieskag 5 baie hoog is.

“Dit is dus te gevaarlik om ʼn soekspan na die skag te ontbied. Ons kyk egter na ander moontlikhede om die saak dringend te hanteer,” het die departement Vrydag gesê.

“Hoewel dit ʼn unieke en vreemde situasie is, sal alle rolspelers saamwerk om te verseker dat die vermoedelik oorlede onwettige myners na die oppervlak gebring word.”

Mantashe het die Lesotho-regering intussen skerp gekritiseer.

In ʼn onderhoud met Newzroom Afrika sê die minister dat Lesotho met Suid-Afrika moet saamwerk om onwettige mynboubedrywighede te bekamp en dat die bergkoninkryk hom aan ekonomiese sabotasie skuldig maak deur anderpad te kyk.

Mantashe sê Suid-Afrika het Lesotho al met ander kwessies bygestaan en dat Lesotho ook in vennootskap met Suid-Afrika moet tree om onwettige mynbou te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frank ·

Wat ‘n grap want die SA Polisie en regering het nog al die jare anderpad gekyk met al die Zamas-Zamas wat orals nes opgeskop het. Praat van splinter in ander se oog terwyl reuse balk uit jou eie oog steek en boonop is onwettighede in SA NIE die Lesoto regering se verantwoordelikheid nie

Althes ·

Mnr Mantashe kyk asseblief na die ekonomiese sabotasie van Eskom. Steenkool dra by tot lugbesoedeling en te ver om gemyn te word vanaf die elektrisiteitsaanlegte.

Johan Tredoux ·

As lugbesoedeling goed genoeg vir ons grootjies was, is dit goed genoeg vir my. Gaan staan en alles kompliseer!

Kosie ·

Mantashe, die enigste skuldiges hier is die anc met hulle onbeholpe bee polisiemag en swak grensbeheer, jy is n meester om ander te blameer, nooit julle nie altyd ander mense, gaan op pensioen of boek jouself in n tronk in maar hou op nonsens praat, jy maak n bespotting van ons land.

JohanR ·

Ja jou ou engeltjie! Is jy en vroulief se bankrekeninge al vet genoeg?

Philip ·

Die man waffle altyd sulke skewe verduidelings met die spoeg wat in alle rigtings trek maar dan kan n mens nie agterkom wat die ou probeer se het nie

Casper ·

Hierdie onwettige myners trek die aandag van Manrashe maar wat van die veediefstalle wat boere lam lê daarvan sprak hy geen sprook.

marius ·

Elke maand kry ‘n string vet amtenarre hul sny van die koek so haal die balk uit die hool vir wie jy verteenwoordig se oog .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.