Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die voorval het na 18:00 plaasgevind, toe lewensredders reeds van diens af was. Die groep leerders, glo van ʼn hoërskool in Pietermaritzburg, was saam met onderwysers en die skoolhoof op die strand.
Volgens Lambinon het ooggetuies gesien hoe nege skoolkinders in die moeilikheid beland in die see en hulle te hulp gesnel. Omstanders kon daarin slaag om ses van die kinders veilig uit die water te haal.
Intussen is swemmers van die NSRI en ʼn reddingsboot ingestuur om die ander drie kinders te red. Die polisie se soek-en-reddingseenheid, ambulansdienste en provinsiale nooddienste was ook vinnig op die toneel.
“Twee lewensredders wat glo van diens af was, het ingeswem en twee meisies uit die water gehaal. Paramedici het gespook om die meisies, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, weer by te bring, maar hul pogings was tevergeefs. Die meisies is op die toneel dood verklaar,” het Lambinon gesê.
Ooggetuies het gesê hulle het ʼn tienerseun met sy gesig na onder in die water sien dryf, maar teen laat Saterdagaand kon reddingswerkers steeds nie daarin slaag om die seun op te spoor nie. Lambinon het gesê daar word aanvaar dat die seun verdrink het. Die soektog na sy liggaam is Sondagoggend voortgesit.
Lambinon kon nie die name van die slagoffers of die naam van die skool bekendmaak nie. Hy het bevestig traumaberaders staan die skoolgroep by.
Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Met so ‘n tragedie is ek woordeloos . . .
Dis waarlik ‘n gròòt tragedie… Sò aan die “begin” van hul lewens. Sterkte aan èlkeen wat hierdeur geraak word….
Ai!so tragies.Ons as Onderwysers moet verantwoordelikheid vir die kinders aanvaar wat die ouers aan ons vir uitstappies toevertrou het.Ons aanvaar dan die verantwoordelikheid wat ouers aan ons oorgedra het. Ons is dan letterlik en figuurlik die “ouers” van die leerlinge totdat ons hulle veilig aan hul ouers terugbesorg het.Meegevoel aan die ouers wat geliefdes verloop het.Sterkte vir die Onderwysers wat in beheer was.
Wtase skool laat hul kinders swem wanneer lewensredders van diens af is? Nee man … jy swem mos waar en wanneer dit veilig is !
Sterkte aan al die betrokkenes. Geen skool voorsien dat so iets sal gebeur op n skooluitstappie nie…tragies!