Maroela Media weer op die lug

Argieffoto.

Maroela Media het Saterdag weer aanlyn gekom en is volstoom aan die gang om al die belangrike nuus en vermaak van die afgelope drie dae op sy webwerf te plaas.

Maroela Media se webwerf was sedert Woensdag 1 Februarie af ná ʼn kuberaanval op die internetdiensverskaffer RSAWeb, waar Maroela se webwerf gehuisves word. Dié aanval het veroorsaak dat Maroela se sowat 2,4 miljoen lesers vir langer as drie dae nie toegang gehad het tot die Maroela-webwerf nie. Die Maroela-app is ook nie bygewerk met nuwe artikels nie.

“Die afgelope drie dae was uiters spanningsvol vir ons as Maroela-span,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Twaalf jaar se harde werk was op die spel weens kubermisdaad. Die Maroela-span het net so hard soos RSAWeb se personeel gewerk om alternatiewe gereed te kry waarmee ons ons lesers ingelig kan hou. Die nuus dat ons webwerf weer lewendig is, is ʼn reuseverligting.

“Ek bedank ons lesers vir hul ondersteuning en lojaliteit gedurende die afgelope paar dae – dit was ʼn riem onder die hart om te ervaar hoe die Maroela-gemeenskap ons belange op die hart dra. Ons het eerstehands beleef dat Maroela se lesers nie net lesers is nie, maar familie wat omgee.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Kobus Bezuidenhout, web- en tegniese bestuurder van Maroela Media, sê RSAWeb het hard gewerk om die webwerf te herstel. “Ons is besig om die situasie te monitor. Maroela Media se span en die webwerf is veerkragtig en ons planne raak nooit op om ʼn beter ervaring vir ons lesers te bied nie.”

Talle ander RSAWeb-kliënte soos Moneyweb, The Citizen en Jacaranda is deur die aanval geraak.

Teen Donderdagoggend is dienste aan sommige kliënte wel herstel, terwyl talle ander steeds verbindingsprobleme ondervind het. Hoewel Jacaranda FM se webwerf een van die eerstes was om weer herstel te word, het dit teen laat Vrydagaand weer van die lug afgegaan en was dit teen Saterdagmiddag steeds onaktief.

RSAWeb het Saterdag op Twitter gesê al die probleme is nog nie uitgestryk nie, maar sy IT-spesialiste maak goeie vordering om dienste na alle geraakte kliënte te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.