Masels nou al in agt provinsies

(Foto iStock)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Vrydag bekendgemaak dat altesaam 727 gevalle van masels tussen 11 Oktober en 9 Maart vanjaar in al die provinsies, buiten die Oos-Kaap, aangemeld is.

In hierdie 40 weke is altesaam 4 608 serummonsters in laboratoriums getoets, waarvan 15,8% (727) positief vir die virus getoets het.

Altesaam 255 gevalle is teen Vrydag in Limpopo aangemeld, 196 gevalle in Noordwes, 107 gevalle in Gauteng, 102 gevalle in Mpumalanga, 27 gevalle in die Vrystaat en 17 gevalle in KwaZulu-Natal.

In die Wes- en Noord-Kaap is onderskeidelik tien en sewe gevalle van masels aangemeld.

Die tipe masels wat in Limpopo en Noordwes aangemeld is, die genotipe D8, is soortgelyk aan die tipe wat verlede jaar in Zimbabwe geïdentifiseer is.

Nios het bevestig dat die ouderdom van pasiënte oor die land heen van twee maande tot 42 jaar wissel.

Die oorheersende ouderdomskategorie van laboratoriumbevestigde gevalle is tussen vyf en nege jaar wat verantwoordelik is vir 42% van die gevalle, gevolg deur een tot vier jaar wat verantwoordelik is vir 25% van die gevalle.

Pasiënte tussen tien en 14 jaar oud maak 19% van die gevalle uit.

Die meerderheid gevalle is by primêre gesondheidsfasiliteite aangemeld (70%). Die hoogste persentasie van gevalle (56%) wat by hospitale aangemeld is, was kinders onder die ouderdom van een jaar.

Nios moedig lede van die publiek aan om hul kinders teen die virus te laat inent.

Masels word deur die rubeola-virus veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë, ʼn loopneus en ʼn uitslag op die vel. Persone van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie kan masels opdoen.

Komplikasies van masels sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor by ondervoede kinders en babas jonger as twee jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nettie ·

So gaan julle die waarheid begin erken? KYK na die ouderdomme. Is dit mense wat nooit ingeent was nie? Of is die waarheid eerder dat die inenting NIE die beskerming bied SOOS BELOWE nie? My eie kind het al sy masel inentings en boosters gehad, en dit nog steeds gekry, asook pampoentjies. Toe toets hulle hom en vind amper geen van sy baba inentings het enigsins gewerk nie. So word daar nie dalk bietjie aangedik wanneer ons verseker word kinders is beskerm na inentings nie?

Gaan MM hierdie kommentaar toelaat? Mag ons al oor die waarheid praat?

Danie ·

Nettie, stadig tog. Dis nie nou al tyd om na die ou foelie hoed te gryp nie.

Miskruier ·

Natuurlike immuniteit is meestal lewenslank, geen vaksien kan daarop verbeter nie.

TruthDealer ·

Ek het ook masels gehad as kind, al is ek inge-ent daarteen.

kaplyn ·

Goeie genugtig bedaar tog en kom by. Geen inenting kan waarborg dat jy nie daardie siekte gaan kry nie. Die wat ingeent is kry dit net in’n ligter graad.

Amelia ·

Hierdie situasie was heeltemal voorspelbaar. Regerings moet maar vingers wys na hulself.

Perdeby ·

Ag as Nettie, Vir baie jare al, weet nie nou meer nie, kon jy nie skool toe gegaan het as jy nie ingeent was as kind nie. Ek en my boer was al 2 en nog steeds het ons masels gekry. Al 3 my kinders was ingeent , en nog steeds het hulle dit as kind gekry. Dit word maar in ons “ou taal” as ‘n kindersiekte genoem. Dit is maar elke jaar dieselfde storie, dis net die media wat alles uit verband ruk. Kindersiektes soos, Masels, waterpokkies, Duitsemasels en pampoentjies is maar algemeen.

Sê maar net ·

Waarom al die ophef oor masels? Ek is nou 64. As kinders het ons almal masels gehad. Ons is goed versorg, kamer donker gemaak, babapoeier gegooi vir jeuk. Roomys en koue koeldrank vir seer kele gegee en stropie vir pyn en koors. Niemand het komplikasies gehad of blind geword nie. Ons het niks daarvan oorgehou nie. My twee kleindogters is ook daardeur toe hulle kleiner was. Een nou 18 en die ander 9. Selfde storie. Geen komplikasies. Pas net jou kind mooi op en hy/ sy sal daardeur kom. Volg net die dokter se instruksies. En as die kind sieker raak, terug dokter toe.
Hulle soek net wêreldwyd verskonings om kinders in te spuit. Absoluut onnodig, volgens my opinie.

Piet ·

Wel. Ek persoonlik weet van niemand wat die siektes gekry het na ‘n inenting nie. Ek het niks van dit gehad nie en het al die ente gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.