Masels nou al in vier provinsies aangemeld

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n siek baba. (Foto: Unsplash)

Die departement van gesondheid het Donderdag bekendgemaak dat altesaam 137 gevalle van masels tussen 11 Oktober en 6 Desember vanjaar in vier provinsies aangemeld is.

Altesaam drie gevalle is Dinsdag in Gauteng aangemeld, wat volg op drie gevalle wat Vrydag in Noordwes opgemerk is.

In Limpopo en Mpumalanga is onderskeidelik 89 en 40 gevalle van masels aangemeld.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Donderdag tydens ’n mediakonferensie in die Holiday Inn Hotel in Boksburg, Gauteng, bevestig dat die ouderdom van maselgevalle of pasiënte oor die land heen van twee maande tot 42 jaar wissel. Die oorheersende ouderdomskategorie van laboratorium-bevestigde gevalle is tussen vyf en nege jaar, wat verantwoordelik is vir 56 van die gevalle, gevolg deur een tot vier jaar wat verantwoordelik is vir 40 gevalle.

Die ouderdomsgroep wat die minste deur die uitbreking geraak word, is babas tot en met een jaar oud.

“Dit is ’n aanduiding dat ouers hul babas wel vir inentings neem,” sê Phaahla.

Van die 137 gevalle het 98 ’n onbekende inentingstatus gehad, 17 is ingeënt, terwyl 22 nie ingeënt was nie.

“Die aantal maselgevalle in die land neem toe en dit is noodsaaklik om die tekens en simptome te ken.”

Masels word deur die rubeola-virus veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen, toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë en loopneus, ʼn uitslag op die vel. Persone van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen.

Komplikasies van masels sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor onder ondervoede kinders en babas onder twee jaar oud.

Volgens die departement gaan die distrikte wat deur die uitbreking van masels geraak word, voort met openbare gesondheidsreaksie om mense op te spoor wat in aanraking was met diegene wat deur die virus besmet is. Inentings is ook nodig om die verdere verspreiding van masels hok te slaan.

Provinsiewye masel-inentingsveldtog het tussen 23 November en 15 Desember in Limpopo geskied, waar kinders tussen ses maande en 5 jaar ingeënt is. Mpumalanga was kort op Limpopo se hakke.

Die nasionale massa-masel-immuniseringsveldtog, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ondersteun word, word vir tussen 6 en 17 Februarie volgende jaar beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

So wat nou? Toe ek n kind was, was masels n algemene siekte en baie van ons het dit gehad.

Marisa W ·

dis omdat inenting nie meer verpligtend is nie – net so met polio

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.