Masels-uitbreking bereik waarskynlik piek

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê daar is die afgelope week geen nuwe gevalle van masels in die land aangemeld nie. Die aantal nuwe gevalle van masels het boonop in April van 20% tot 14% afgeneem.

Altesaam 976 gevalle van masels is tussen 11 Oktober en 24 April vanjaar in al die provinsies, buiten die Oos-Kaap, aangemeld.

In hierdie 40 weke is altesaam 5 853 serummonsters in laboratoriums getoets, waarvan 17% (976) positief vir die virus getoets het.

Altesaam 410 gevalle is tot dusver in Limpopo aangemeld, 216 gevalle in Noordwes, 166 gevalle in Gauteng, 108 gevalle in Mpumalanga, 29 gevalle in die Vrystaat en 20 gevalle in KwaZulu-Natal.

In die Wes- en Noord-Kaap is onderskeidelik 14 en sewe gevalle van masels aangemeld.

Die soort masels wat in Limpopo en Noordwes aangemeld is, die genotipe D8, is soortgelyk aan die soort wat verlede jaar in Zimbabwe geïdentifiseer is.

Die ouderdom van pasiënte wissel van twee maande oud tot 67 jaar.

Die oorheersende ouderdomskategorie van laboratoriumbevestigde gevalle is tussen vyf en nege jaar en dié ouderdomsgroep is verantwoordelik vir 43% van gevalle (413 gevalle), gevolg deur een tot vier jaar oue kinders wat 24% van die gevalle (228 gevalle) uitmaak. Pasiënte tussen tien en 14 jaar oud maak 20% van die gevalle uit (190 gevalle).

Die meeste gevalle is by primêre gesondheidsorgfasiliteite aangemeld (67%). Die hoogste persentasie van gevalle (59%) wat by hospitale aangemeld is, was kinders onder die ouderdom van een jaar.

Nios moedig lede van die publiek opnuut aan om hul kinders teen masels te laat inent.

Masels word deur die rubeola-virus veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen, toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë, ʼn loopneus en ʼn uitslag op die vel. Mense van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen.

Komplikasies sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor by ondervoede kinders en babas jonger as twee jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

otter ·

Ja nee gaan vra maar hoekom daar nie meer beskerming is teen masels en ander siektes na daai vaccine nie….

Nommer 7 ·

Ek het gevra. Dit is omrede dit vir ouers moeilik was om hierdie roetine inentings vir hul kinders te laat kry gedurende die covid tyd.

Hendrik ·

Dis juis diegene wat nie hulle kinders laat ent nie, wat veroorsaak dat masels in onlangste jare weer toegeneem het! Alles as gevolg van een wetenskaplike studie wat nou al male sonder tal verkeerd bewys is deur deur opvolgende studies.

ENFM ·

Waarom word versterkingsdosisse gegee as die masels ent werk?
Was dit nie ‘n kindersiekte, waar die opdoen van die siekte as kind, sou keer dat jy dit later as volwassene kry nie?
Volwassenes word mos baie siek van kindersiektes; kinders nie so erg nie. Swanger vroue moet liewer wegbly van siektes.
Partykeer gaan mense dood van inentigs ook.
Is dit dan die volle waarheid om te sê die masels ent is die enigste manier om nie masels te kry nie?
Om ‘n ingeligte besluit te kan neem, moet mens al die inligting hê.. positief, sowel as negatief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.