Masemola gevra om in te gryp by stakings

(Foto: Thulani Ndaba/Twitter)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan Maandag opdrag gegee om ’n aanmaningsbrief aan genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, te rig waarin hy versoek sal word om wet en orde in die strate van Kaapstad én Pretoria te herstel.

“Dit is die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se grondwetlike verantwoordelikheid om wet en orde te handhaaf en om die veiligheid van landsburgers te verseker. Die huidige stand van sake is onaanvaarbaar en verlang onmiddellike aandag en optrede,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Die Moederstad en Jakarandastad sit met hul hande in die hare weens voortslepende stakings wat geweld en diensleweringsprobleme veroorsaak.

Luidens mediaberigte het die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) se voortslepende staking in Kaapstad reeds die lewens van twee mense geëis en drie ander beseer gelaat. Intussen brand busse en duisende pendelaars sit gestrand.

Die Stad Tshwane spook op sy beurt om stakende werkers sover te kry om vir werk op te daag. Die stakende werkers intimideer boonop hul kollegas wat wel vir diens wil aanmeld.

Die metro is raadop en het reeds 38 afdankingsbriewe uitgereik.

Broodryk sê AfriForum se aanmaningsbrief aan Masemola is ’n oproep tot aksie wat eis dat die polisie hul pogings om die publiek te beskerm en orde te herstel, opskerp. Die organisasie glo dat die SAPD ’n plig het om in te gryp en daadwerklike stappe te doen om verdere verlies van lewens en eiendom te voorkom.

“Ons kan nie net staan en toekyk terwyl ons burgers in vrees en onsekerheid leef nie. Die SAPD moet hul grondwetlike plig nakom en onmiddellike stappe doen om die veiligheid van die mense van Kaapstad te verseker,” beaam Morné Mostert, bestuurder vir plaaslike regeringsake by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JJB ·

Die ANC orkestreer waarskynlik die geweld in die agtergrond. Hul moet vir die mense wys dat nét die ANC “vreedsaam” kan regeer. Soos wat die mag uit hul hand glip sal hul toenemend terugkeer na die ou praktyke van geweld en intimidasie. Die stakende kriminele moet báie harder op hul plek gesit word en die Taxibase moet ook begin skade ly. Haal af die handskoentjies en staan vás Pretoria en Kaapstad!

Kokerboom ·

Hy soos al sy voorgangers word oorskadu deur sy onbevoegde media gierige Minister

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Kleedrepetisie. Indien die ANC volgende jaar uitgeskop word sal hierdie tipe gedrag voortduur. Die ANC sal nie gaan lê nie. Die ANC respekteer nie die reg, eiendom en lewe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.