Mashaba sê minister moet verduidelik oor geld vir Alexandra-township

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, eis ʼn verduideliking van Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, nadat ʼn amptenaar in haar departement gesê het dié departement gee jaarliks R1,7 miljard om water en toilette aan die digbevolkte Alexandra-township te verskaf.

Mashaba het Dinsdag gesê hy het reeds aan Sisulu geskryf nadat die bewering op televisie gemaak is.

“Ek het gister aan die minister geskryf om my diepe kommer uit te spreek oor die wanvoorstellings wat Neville Chainee, die departement se direkteur-generaal (DG), gemaak het oor die toewysings aan die stad vir Alexandra.”

Mashaba het gesê volgens die DG kry Johannesburg byna R2 miljard wat spesifiek geoormerk is vir water en sanitasie.

Die burgemeester sê Chainee het die opmerking op televisie gemaak, in reaksie op die grafiese voorstelling van die haglike sanitasiegeriewe in Alexandra.

Hy sê hoewel die bedrae genoem water en sanitasie insluit, is dit nie spesifiek op kwessies van water en sanitasie gemik nie, soos deur Chainee beweer.

“Dit is ook geoormerk vir elektrisiteit en paaie, om maar twee noemenswaardige voorbeelde te noem,” het Mashaba gesê.

“Mnr. Chainee se reaksie is uiters problematies omdat dit die indruk skep dat die geld op een of ander manier uitsluitlik vir Alexandra bedoel is, terwyl dit vir die hele stad van Johannesburg benodig word.

“Gesien in die lig van die infrastruktuuragterstand van R170 miljard, is toelae aan die stad hopeloos te min om aan ons behoeftes te voldoen.”

Mashaba het gesê hy eis nou duidelikheid van Sisulu of die sogenaamde stedelike behuisingsontwikkelingstoelaag spesifiek geoormerk is vir water- en sanitasie-infrastruktuur en of dit ʼn vereenvoudiging is van die gebruik en byvoorbeeld elektrisiteit en water uitsluit.

Hy wil ook weet of die geld eksklusief vir een nedersetting bestem is.

Mashaba sê Sisulu moet sê of die toelaag, realisties gesproke, die stad se héle infrastruktuuragterstand kan uitwis, insluitend die agterstande in Alexandra.

Die departement het nog nie kommentaar op Mashaba se brief gelewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Botha ·

Die ANC het geweet dat hulle Gauteng kon verloor. Daarom het Cyril toegeslaan op Johannesburg en Pretoria.

Toe blameer hy Mashaba vir Alexandra terwyl die nasionale regering nie die fondse verskaf het nie.

Nita ·

Dit help niemand as die regering mense toelaat om oral onbepland geboue op te rig nie. Hier waar geboue nou afgebreek is omdat hulle op die verkeerde plek opgerig is, beplan waar die korrekte plek is en rig n 10 verdieping woonstegebou op met 120 tweeslaapkamer woonstelle. Lê water en sanitasie en krag op n behoorlike wyse aan. Dit behoort die tendens landwyd te word. En niemand maar niemand mag sy woonstel opdeel met lakens en 20 mense huisves nie. Dan sal daardie gebou ook weer in chaos verval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.