Maskervervaardigers moet opdok ná ‘astronomiese’ prysverhogings  

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die mededingingskommissie het bevind dat twee maatskappye die pryse van gesigsmaskers onbehoorlik opgestoot het, en dié twee moet nou ʼn boete van R1,7 miljoen betaal.

Maroela Media het vroeër berig dat die kommissie die sustersmaatskappye Sicuro Safety CC en Hennox Supplies na die mededingingstribunaal verwys het nadat daar bevind is dat dié maatskappye se prys vir filtreringsmaskers tydens afsondering met meer as 900% toegeneem het. “Die twee ondernemings kon nie die kommissie van ʼn behoorlike rede vir dié toename in prys voorsien nie,” het die kommissie vroeër die week gesê.

Die maatskappye het intussen erken dat hulle, strydig met die regulasies van die Verbruikerswet, hul winsmarges op gesigsmaskers in Maart opgestoot het. Hulle het gevolglik met die kommissie ooreengekom om ʼn boete van R1,7 miljoen te betaal. R1,5 miljoen hiervan is ʼn administratiewe boete en R200 000 word aan die regering se Solidarity Fund geskenk.

Die maatskappye het ook ooreengekom om onmiddellik op te hou om buitensporige pryse vir die maskers te vra, om hul winsmarges op die maskers te verlaag en te verseker dat hul winsmarges op alle maskers nie ʼn maksimum grens sal oorskry, soos vooraf ooreengekom, tydens die duur van die ramptoestand nie. Hulle moet ook binne 14 dae van die bevestiging van die bevel ʼn verklaring aan alle bestuurspersoneel en werknemers van Sicuro en Hennox uitreik waarin die besonderhede van die skikking saamgevat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Mooi. Vat die uitbuiters vas. Ek sien onlangs in ‘n supermark dat 1 liter spuit bottels (leeg) R75.00 kos. Gebruik sommer die een waarin die badkamer en kombuis skoonmaakmiddel kom.
Ek het die winkel gerapporteer. Sal sien wat daarvan kom.

Pensionaris Sedgefield ·

Lekker, daar sorg jy dat die regering ‘n handige meevallertjie kan kry. Kry vir jou iets anders om te doen man. More wil jy hê daai selfde winkel moet vir jou iets kry of doen. Ek hoop hy stuur jou warmplek toe.

Ek kan ·

@Daan as daar nie ‘n buitensporige prysverhoging was nie, doen die supermark niks verkeerd nie.

JohanR ·

Ook daai gedagte in my kop gekry Willem. Wonder of die boete ooit uitkom waar hy moet uitkom. Was daar ooit ‘n bewys aan die publiek dat Zuma se boete vir Nkandla was ooit betaal. En toe gaan leen hy nog by VBS. Het hy al daai tyd geweet VBS gaan vou?

Jan ·

Plaas die prys wat gevra mag word vir water tiepe masker in die nuus dan weet ons wat gevra mag word

Jan ·

Nee hulle kan dit nie doen nie dan is daar nie plek vir kurupsie nie

'n Simpelman ·

Die boetes help maar nie genoeg.
Van regering, maatskappye en gewone mens op straat het reeds verarm deur hierdie buitensporige pryse te betaal.

Hoe word dit reg gestel.
Al wanneer so iets verhoed kan word is tronkstraf.
As hy 5 jaar in tronk sit sal CEO en direkteure ag slaan. Hulle lag die boetes af. Hulle meer as dit gemaak.

Yvonne ·

Daar gaan dan nou 19 000 kriminele vrygelaat word..so wat help tronkstraf

marius ·

Hoeveel het die belasting betaler opgedok vir die gulsigheid ? Stuur die eienaars lewenslank tronk toe!

Niklaas ·

Kansvatters kry mens om elke hoek en draai, selfs in tye waar die land, en die wereld in benarde situasie verkeer. Daai boete is eintlik te min

PieterP ·

Kom ons werk dit anders om. Dir markte gaan nog altyd oor supply and demand. As jy meer kan vra vir jou produk sal jy nie? Het nog nie een van julle op Gumytre of Junkmail ‘n foon of grassnyer teen soveel as moontlik probeer verkoop nie? Hoekom teem niemand oor die kospryse wat so gestyg het tydens lockdown terwyl die vervoerkostes om die kos te skuif afgekom het nie??? Sleg, sleg sê die koper en spog dan oor sy winskoop?

Pensionaris Sedgefield ·

Mense, mense, mense. Verstaan julle nie die vryemarkstelsel nie? Prysbeheer is die vinnigste manier om te verseker dat daar tekorte ontstaan. Waar dink julle, wat so graag winkels rapporteer, hoe gaan hulle opmaak vir die boetes wat betaal is? Dis reg, algemeen hoër pryse! Die regering kry die geld vir die boetes en ons betaal indirek daarvoor. Iemand wat “snitch” is in die ou dae hanskakies of verraaiers
genoem. Jy kan veroorsaak dat ‘n besigheid toemaak en mense hulle werk verloor. Dis eenvoudig, as jy nie van ‘n prys hou nie, moenie die produk koop nie. Gaan koop hom op ‘n ander plek. As jy hom nie op ‘n ander plek kan kry nie, dan weet jy hy is skaars. Besluit dan maar of jy dit regtig nodig het.

JM ·

Ongelukkig is dit nie “of jy dit regtig nodig het” nie. Mense HET maskers nodig en nie almal kan dit self maak nie.

Amatambo ·

Dankie tog dat ek selde of ooit ‘n spuitbottel weggooi – ek het soveel gehad dat ek selfs onder familie en vriende uitgedeel het …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.